
Die Toyota Stadion in Bloemfontein was Saterdag na die eindfluitjie vir die Curriebeker halfeindstryd tussen die Cheetahs en Poemas doodstil. As gevolg van ‘n drie in die doodsnikke van die halfeindstryd deur die reserwe senter, Ali Mgijima, is die Cheetahs met ‘n 38-35 nederlaag uitgeskakel en is die Poemas deur na die eindstryd vir die eerste keer in hul geskiedenis.
Dit was amper ‘n geval van déjà vu siende dat die span van die Laeveld twee weke vantevore ook in Bloemfontein die Curriebeker se pasaangeërs naelskraaps met 29-28 geklop het.
Dié keer het die nederlaag vir die blikore duur te staan gekom aangesien dit die einde van hul seisoen beteken het.
Alles is egter nie verlore vir die Cheetahs nie aangesien hulle vanjaar nog aan die Toyota Uitdaagreeks in die Rosestad sal deelneem, terwyl hulle in Desember ‘n welkome terugkeer tot Europese rugby sal maak in die Europese Uitdaagbeker.
Die Cheetahs se breier, Hawies Fourie, het na afloop van die skoknederlaag erken dat dit verseker ‘n bitter pil is om te sluk en dat dit tyd sal meen om oor die teleurstelling te kom.
“Ons het die wedstryd nie goed begin nie en ons was na die eerste 20 minute 17-7 agter. Ek het gevoel dat ons in die volgende 40 minute baie goed gespeel het. Ons het die voortou met 15 punte geneem. In ‘n halfeindstryd mag jy nie verloor as jy met 15 punte voorloop nie. Jy moet met so ‘n voorsprong wen.
“Ons het foute begaan en het ook twee strafskoppe afgestaan teen die einde van die wedstryd. Ons het die inisiatief aan die Poemas teruggegee en hulle het ons gestraf.
“Dit is ‘n donker dag vir ons. Die wedstryd was in ons hande gewees. Ons het goed teruggeveg en goed gespeel en toe het die wiele afgekom.
“Op die stadium is dit moeilik om te sê wat die pad vorentoe sal wees. Ons sal later vanjaar in die Toyota Uitdaagreeks speel en dan ook in die Europese Uitdaagbeker. Dit sal taai wees aangesien ons al ons wedstryde weg van die huis sal speel.
“Ten minste is daar deure wat vir die span weer oopswaai. Ons was die afgelope twee of drie jaar in die donker gewees. Die geleentheid om weer in Europa te speel sal goed wees vir die unie en ons is dankbaar dat ons in daai reeks kan speel.
“Dit sal egter beslis tyd neem om oor die nederlaag te kom. Ons sal moet hergroepeer, karakter wys, weer hard werk en onsself regmaak vir die volgende twee kompetisies.”
Die besonderhede vir die Toyota Uitdaagreeks is op die stadium nog nie bekend nie, terwyl wat Europa betref sal die loting vir die groepe aanstaande Dinsdag gedoen word. Die Europese Uitdaagbeker sal in Desember afskop en op die stadium sal die Cheetahs vanuit Parma in Italië speel.
Europese Uitdaagbekerspanne:
Verenigde Rugbykampioenskap – Glasgow Warriors (Skotland), Scarlets (Wallis), Connacht (Ierland), Lions (Suid-Afrika), Benetton (Italië), Cardiff (Wallis), Dragons (Wallis), Zebre (Italië).
Top14 (Frankryk) – RC Toulon, Section Paloise, Stade Français Paris, CA Brive, USAP, Aviron Bayonnais
Gallagher Premierskap (Engeland) – Wasps, Bristol Bears, Worcester Warriors, Newcastle Falcons, Bath Rugby
Uitnodiging – Cheetahs