Bloemfontein – Springbok- en Haaiehaker Bismarck du Plessis sal voor ‘n tugkomitee verskein nadat hy die Vrystaat Cheetahs-flank Lappies Labuschagné getrap het tydensdie Haaie se 33-22 Curriebeker-halfeindstrydsege oor die Blikore.
Die voorval het in die 65ste minuut van die kragmeting op Kingspark plaasgevind en die speler het ‘n geelkaart ontvang.
Dit is in die verbreking van Reël 10.4 (b).
Die tyd en datum van Du Plessis se verhoor is steeds onbekend.
Die Haaie speel die eerskomende Saterdag teen verdedigende kampioen, WP, op Nuweland in die eindstryd van die kompetisie.
Intussen is die WP se woelige haker Scarra Ntubeni vrygespreek van ‘n beweerde boorvat en geen verdere aksie sal teen die speler geneem word nie.
WP het vroeër die dag die Goue Leeus met 33-16 geklop om vir die eerste keer sedert 2001 ‘n tuiseindstryd te bespreek.
Dit is WP se derde eindstryd sedert 2010 en die Haaie se vierde agtereenvolgende eindstryd. Die manne van Durban het in 2010 vir WP in die eindstryd geklop, terwyl WP verlede jaar die Haaie in Durban geklop het.