Lani Fouché
Die Vrystaatse Nasionale Botaniese Tuin in Bloemfontein maak vandag erns van die viering van Internasionale Biodiversiteitsdag. Dit is geen wonder nie – die Botaniese Tuin en die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI) lei en koördineer navorsing én doen verslag oor die stand van biodiversiteit in Suid-Afrika. Biodiversiteit is ’n sambreelterm om die verskeidenheid plant- en dierelewe in ’n spesifieke habitat of ekostelsel te beskryf. Volgens die Botaniese Tuin se Michélle Grobler is Suid-Afrika een van die mees biologies diverse lande in die wêreld naas Indonesië en Brasilië. “Ons land het weerskante drie oseane en beslaan nie net sowat 2% van die wêreld se grondgebied nie, maar is die tuiste van byna 10% van die wêreld se plante, 7% van die wêreld se reptiele, voëls en soogdiere en 15% van die bekende kusmarine-spesies. Ons land bestaan uit nege biome (unieke plantegroeilandskappe), waarvan drie reeds as globale biodiversiteitskerns verklaar is.”
Terwyl biodiversiteit gesonde ekostelsels verskaf vir estetiese, kulturele, geestelike en ontspanningsbehoeftes van mense, is biodiversiteit op ’n basiese vlak ’n kernvereiste vir menslike oorlewing. Grobler benadruk die belangrikheid daarvan om te wéét wat in jou omgewing aangaan en om dit ten alle koste te beskerm. “Kennis van biodiversiteit lei tot ’n beter begrip en bestuur daarvan, en dus beter bewaring en beskerming van ons biologiese hulpbronne. SANBI is ’n toegewyde nasionale biodiversiteitsinstelling wat brûe bou tussen wetenskap, kennis, beleid en implementering.”
Volgens Eliot Lithudzha, kurator van die Botaniese Tuin, is die natuurlewe in die Vrystaat en Bloemfontein onder bedreiging. “Ons moet by klein kindertjies begin om die generasie van die toekoms te bemagtig om Suid-Afrika se biodiversiteit te bewaar en preserveer. Suid-Afrika is een van die lande wat reeds erge waterskaarste ervaar en indien mense nie begin om water sowel as biodiversiteit te respekteer en te bewaar nie, voorspel Lithudzha dat Suid-Afrika teen 2030 die risiko sal loop om geen watervoorrade te hê nie. “Die sleutel tot die verandering van die mentaliteit en optrede van die jeug, en die mensdom in geheel, lê in kennis!” ’n Biodiversiteitsprogram sal vanoggend 10:00 in die Environmental Education Centre aangebied word. Toegang is gratis en dit sluit verskeie praatjies in, asook ’n begeleide wandeling deur die Botaniese Tuin.
lani@centralmedia group.co.za