Binding gee SuidAfrikaners hoop

0
583
Eckhard Binding (21), derdejaar-bank- en beleggingstudent aan die UV FOTO: FACEBOOK

Eckhard Binding (21), derdejaar-bank- en beleggingsbestuurstudent aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) wat sedert Maandag hoofopskrifte in koerante gehaal het nadat ‘n video van hom op sosiale media ontplof het, wil Suid-Afrikaners met mekaar laat praat.
Binding het tydens ‘n protesoptog op die UV-kampus rommel opgetel wat verlede Vrydag deur betogers rondgestrooi is op die UV se Bloemfontein-kampus.

Boodskappe van lof en aanmoediging aan Binding het sedertdien van oor die wêreld ingestroom. Binding is ook nou R10 000 ryker en daar is gesprekke oor ‘n volbetaalde universiteitsbeurs. Hy sê dat geen bevestiging van die beurs aan hom gekommunikeer is nie, maar hy glo dat die aanbod daar is.

Binding het verder aan Bloemfontein Courant gesê dat protesaksies op die kampus byna nooit vreedsaam verloop nie. Op hierdie spesifieke dag het betogers deur die kampus na die brug gestap en rommel rondgestrooi. Hy vertel hoe hy uit frustrasie besluit het om te begin skoonmaak met die hoop dat mense by hom sou aansluit. Hy sê hy het nie probeer om ‘n punt te bewys nie, maar eerder gedink dat dit nie reg is dat die skoonmaakproses later iemand anders se probleem word nie. ”Ek is nie ‘n held nie, net ‘n gewone mens wat sy deel wil doen.”

Een ding is seker, die wêreld gaan nog baie van Eckhard Binding sien en hoor. “My pa en ek het lankal terug begin praat oor hoe ons ‘n verskil in die land kan maak. So het ons besluit om ‘n ‘trend’ te begin, #StarttalkingSA. Die idee agter dit is dat ons moet begin praat oor ons probleme,” vertel hy.

Hy het aan Bloemfontein Courant genoem dat sy toekomsplanne ‘n laekoste-onderwysfasiliteit saam met sy pa insluit, waar mense in hul huistaal onderrig kan word, asook om debat tussen Suid-Afrikaners te begin. – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za