Bike-trippie word epiese ekspedisie

0
202
'n Groep vriende se motorfietstoer op 'n ou treinspoorroete in die Oos-Kaap, het groot belangstelling uitgelok. FOTO: ALBE GROBBELAAR

Ons klompie Biker-pêlle, wat in Maart vanjaar met ons motorfietse op ‘n ou treinspoorroete in die Oos-Kaap gaan ry het, het redelik belangstelling uitgelok, veral nadat ons storie in ‘n paar koerante verskyn het.
Wat net ‘n eenvoudige “biketrippie” sou wees, het in ‘n epiese ekspedisie ontaard. Ons bende spoorryers het (bloed)bande gesmee wat ons lewenslank sal bind.
Ons het toe MOS ‘n kameraman ook saamgeneem om ons af te neem. En toe het ons MOS ‘n paar episodes vir die TV saamgeflans. Wat dít alles agter die skerms geïmpliseer het, is ‘n baie, baie lang storie. Hier is die kort weergawe.
Die video-opnames van die Biketrip is met nie minder nie as vyftien kameras gemaak. Bloemfontein se deurwinterde kameraman, Eddie Stanley, het naas die twee groot, professionele televisiekameras, ‘n FS7 en GH5 (wat ons die grofgeskut genoem het), ook nog twee hommeltuie en drie GoPro-kameras ingespan.
Dan was daar nog ons agt spoorryers se selfone, vir aksievideo’s. Die gevolg was dat die totale hoeveelheid “videomateriaal” aan die einde meer as 700 minute beloop het. Hieruit wou ons ons movie maak.
KykNET se gewilde motorprogam, La’t Wiel, het uiteindelik laat weet hulle soek 3 episodes van 7 minute elk. Niks meer nie. Altesaam dus 21 minute uit ons beskikbare 700 minute se materiaal. Welkom in die wêreld van dokumentêre televisie!
Ek het opnuut respek gekry vir mense in hierdie bedryf. Dis ure en ure se harde werk. Die beste beskrywing is dalk om jou te verbeel jy koop ‘n 1000-stuk legkaart. ‘n Puzzle. En dan, as jy die boks oopmaak, sien jy daar’s 10,000 stukkies waaruit jy die regte 1000 moet vind om mee te bou.
Al troos as jy wil huil oor die pragtige videomateriaal wat noodwendig uitgegooi moet word, is daardie ou gesegde in die uitsaaiwêreld: Die kyker weet nie wat hy níe sien nie.
As jy gou speel, kan jy nog hierdie week en volgende week na die laaste twee episodes op La’t Wiel kyk. Kanaal 144 op DStv. Onthou net, wat jy sien is slegs een honderdste van die Volle Verhaal! – Albé Grobbelaar