BIF ‘n ware vriend vir gemeenskap

0
383
Die Bainsvlei-inwonersforum berei kospakkies voor vir gesinne in nood

Lede van die Bainsvlei-inwonersforum (BIF) het gedurende die inperkingsperiode hul harte oopgemaak en baie mense wat kwesbaar is en in nood verkeer het, bygestaan. Francis Gous, ondervoorsitter van BIF, het aan Bloemfontein Courant gesê dat hulle daarop voorbereid was dat geldelike verlies en gevolglik maatskaplike nood tydens die grendeltyd baie inwoners se voorland sou wees omdat hulle nie kon werk en ‘n inkomste verdien nie.

“Ons voorsien deurlopend in mindere of meerdere mate kospakkies aan ongeveer 30 gesinne. Ons troeteldiergroep is ook betrokke by die insameling van skenkings sodat die mense se diere ook kan eet in hierdie tyd.

Ons het deurlopend kontak met maatskaplike werkers sodat wanneer ons agterkom dat daar ander probleme en behoeftes is, daar hulp is. Ons het ook ‘n aanlyngroep begin om mense op sielkundige vlak beter te probeer ondersteun.” Volgens Gous is daar baie vrywilligers wat deel is van dié projek.

Sy vertel dat ‘n groot deel van die gemeenskap op een of ander manier betrokke is. Sommige gee kontant, ander skenk kruideniersware of klere, en boere skenk vars groente, vleis en eiers. “Een van die waardevolste dinge is dat mense mateloos van hul tyd gee om al hierdie dinge te laat gebeur. Ons is besonder geseënd om deel van so ‘n gemeenskap te wees,” het sy bygevoeg.

Die Bainsvlei-inwonersforum bestaan uit verskeie sektore, die 24 uur-bystandspan, wat ‘n veiligheidstruktuur behels en ‘n span van 3 tot 4 lede wat diens per radio en telefoon doen om enige noodgevalle en krisisse te help hanteer. Die brandspan assesseer en hanteer meeste brande in die omgewing totdat die brandweer kan help.

Die welsyngroep help met die insamel en uitdeel van hulpmiddele waar daar nood is. Die feeskomitee is verantwoordelik vir die reël van sosiale geleenthede wat samesyn bevorder. Die omgewingsgroep help ‘n oog hou oor die paaie en bome wat aan kragdrade raak en kragonderbrekings kan veroorsaak.

Die diensleweringgroep help met die opvolg van kragonderbrekings en waterlekkasies. Die mediese vrywilligers is ‘n baie belangrike funksie, aangesien Bainsvlei meestal ver van die nooddienste is en iemand eerstehulp moet kan voorsien totdat die nooddienste op die toneel kan wees.

Die patrolleerders doen daagliks hoë sigbaarheidspatrollies en gee terselfdertyd alles deur wat verdag en uit plek voorkom.

Heidre Malgas

heidre@mahareng.co.za