BIC vat hande met Koot Niemann

0
2759
Ruan Dercksen, Peter van der Merwe, Lizelle Kruger, Henri Kruger, Theuns Hanekom, Nico Coetzee en Shaun Matuwane FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

As deel van die Global Education-week het lede van BIC Vrystaat/Noord-Kaap ‘n inkleurkompetisie vir die Koot Niemann Intermediêre Skool gehou met die doel om ‘n verskil te maak deur kreatief te wees.

Op 15 November het BIC 2000 kristalblou-penne aan die skool geskenk, saam met 20 geskenkpakke vol lekkergoed.

Volgens die streeksbestuurder van BIC FS/NC, Henri Kruger, was die doel van die dag om ‘n verskil in die gemeenskap in Bloemfontein te maak en ook om te help met die opvoedkundige ontwikkeling van die leerders. “Dit was vir ons belangrik om aan hierdie spesifieke skool te skenk en ook om die kinders op te voed oor die belangrikheid van onderwys en waarom dit belangrik is om hard op skool te werk.

“Die doel van die Global Education-week is om opvoeders en leerders aan te moedig om opvoedkundige aktiwiteite te ondersoek asook bewusmaking te skep oor die breër wêreld en ons eie rol as wêreldburgers.

Theuns Hanekom, skoolhoof van die skool, het aan Bloemfontein Courant gesê die skool waardeer die pogings van BIC opreg, veral die feit dat die maatskappy in die skool belê. “Die meeste leerders van die skool kom uit moeilike omstandighede en sommige het nie eens ‘n pen of potlood by die huis nie. Dit beteken baie vir ons as skool dat BIC besluit het om in die toekoms van ons leerders te belê,” het Hanekom gesê.

Koot Niemann Intermediêre Skool is ‘n laerskool met 1300 leerders wat geleë is naby die ou Thaba Nchu-PAD in Bloemspruit, Bloemfontein.

PIERCE VAN HEERDEN
pierce@mahareng.co.za