LANI FOUCHÉ
‘n Ontvangsdame van ‘n prokureursfirma in Bethlehem is skuldig bevind daaraan dat sy duisende rande van haar werkgewer gesteel het.
Die 38-jarige Rina Susana Jacobs is gister in die streekhof in Bloemfontein tot vyf jaar tronkstraf gevonnis, opgeskort vir vyf jaar op voorwaarde dat sy nie in daardie tyd ‘n misdryf pleeg nie.
Die klaer was Schroeder en Meades Prokureurs. Sy het tussen 1 Desember 2007 en 31 Augustus 2008 altesaam R270 000 van dié firma gesteel deur gelde wat van kliënte ingevorder is, stuk-stuk vir haarself te hou.
Die verdediging het ter strafversagting betoog dat sy reeds haar huis en reputasie in Bethlehem verloor het, en dat sy en haar man nou met erge geldelike probleme sit.
Sy het ook drie kinders onder 18 vir wie sy moet sorg. Die volle bedrag wat gesteel is, is uit die verkoop van haar huis aan die firma terugbetaal.