Bfn voor op mediese gebied

0
4710

Lani Fouché

Bloemfontein is weereens die spreekwoordelike pasaangeër in die land wanneer dit kom by mediese deurbrake en baanbreker-prosedures.  Daar is reeds vanjaar twee merkwaardige mediese inisiatiewe in die Rosestad bekendgestel wat ’n groot impak op gesondheidsdienste landswyd kan hê.  By die Universitas Netcare-hospitaal is ’n pil met intelligente komponente en klein kameratjies bekendgestel wat die werk van ’n kolonoskopie verrig. ’n Chirurgiese gastroënteroloog wat by dié hospitaal praktiseer, dr. Stephen Grobler, is die eerste dokter in die land wat die PillCam Colon Capsule Endoscopy op sy pasiënte gebruik.

Hierdie pil word deur die pasiënt ingesluk en neem dan vier foto’s per sekonde van die pad wat hy deur die derms volg tot aan die onderkant van die kolon. Hoë-gehalte beelde van die binnekant van die pasiënt se derms word dan na ’n klein monitor gestuur wat met ‘n gordel om die pasiënt se middel vasgemaak word. Enige vergroeisels, skeure, verdikkings, bloeding of oneweredighede kan met dié kamera-pil afgeneem en ontleed word.  Die voordele hiervan is eindeloos. “Dit kan as ’n alternatief gebruik word vir pasiënte wat nie kans sien vir tradisionele indringende kolon-ondersoeke of narkose nie. Dis ook die beste opsie vir pasiënte wat ’n hoë risiko vir komplikasies tydens kolonoskopieë het, soos bloeding, sedasie-risikos, vorige involtooide kolonoskopieë of pasiënte met inflammasie in hul derms,” sê dr. Grobler.

Volgens dr. Grobler is die kapsule 95% akkuraat en kan maklik probleme opspoor weens die 180°-visie van die kameras. Op dieselfde dag is daar die heel eerste kliniese simulasie-eenheid van sy soort by die Universiteit van die Vrystaat se fakulteit gesondheidswetenskappe bekendgestel. Hierdie eenheid, wat etlike miljoene rande gekos het, plaas mediese studente in situasies wat so na as moontlik aan die werklikheid is om mense se lewens te red. Hul vaardighede word as’t ware op gerekenariseerde poppe geslyp.

Een van die drie dokters wat hierdie eenheid ’n werklikheid by Kovsies gemaak het, dr. Mathys Labuschagne, vertel dat elke pop menslike siektes kan naboots wat deur ’n rekenaar van agter ’n eenrigtling-glas aangedryf word. “Daar is ’n Sim-Mum wat kan kraam, ’n Sim Baby, Sim Man en Resusci-Ann. Dié poppe kan asemhaal, hul oë knip, ’n hartaanval of beroerte kry, ’n hartstilstand beleef en selfs bloei. Ons het ook inteligente liggaamsdele waarop studente kan oefen om gespesialiseerde prosedures uit te voer.”
Hy sê hierdie eenheid is ’n uitstekende oefenbaan. “Deur hulle op ’n nagebootsde pasiënt te laat oefen, kan hulle dit beleef asof dit ’n regte pasiënt is,” sê dr. Labuschagne. Hierdie eenheid bied ongetwyfeld ’n voorsprong in die opleiding van jong dokters wat daar kan oefen.

Dokters wat in Bloemfontein werksaam is, ag hulself bevoorreg weens die baanbrekerwerk wat hiér gedoen word. “Die sentrale streek van Suid-Afrika oor die algemeen neem die voortou in die mediese wêreld. Ons is baie bevoorreg om hier te kan werk waar tegnologie gevorderd is,” meen dr. Grobler.

’n Baie seldsame hartoperasie is verlede jaar op ’n boer van Hoopstad, Carl Botes (51) uitgevoer nadat ’n gewas so groot soos ’n man se vuis uit sy hart verwyder is. Daar word gemiddeld twee sulke gevalle per jaar oor die wêreld heen aangemeld. Hoof van die UV se Departement Kardiotorakchirurgie, prof. Francis Smit en sy span chirurge, het dié gevaarlike operasie suksesvol uitgevoer.  In 2011 het die Universitas-hospitaal geskiedenis gemaak toe ’n hoogs gespesialiseerde pasaangeër ter waarde van R180 000 in ’n tweejarige seuntjie ingeplant is. Mario de Freitas ly aan Verlengde QT Interval Sindroom.

Ook in 2011 is ’n nuwe middel wat duisende breinkankerpasiënte se lewe kan verleng, in ’n toonaangewende mediese prosedure in Bloemfontein gebruik. ’n Gewas is suksesvol in Mediclinic Bloemfontein uit Hester Erasmus (56) se brein verwyder. ’n Nuwe middel (Gliolan) is vir die eerste keer in die land gebruik om dié operasie uit te voer. ’n Mediese student aan die Universiteit van die Vrystaat, Olihile Sebolai, het in 2005 nuushooftrekke gehaal toe hy ’n manier gevind het om verstopte bloedvate meer effektief te open.

En ’n lyer aan Parkinson se siekte, Floris Brand, het onlangs ’n seldsame breinoperasie in die Mediclinic Bloemfontein ondergaan om elektrodes in sy diepbrein te plant. Dit, terwyl hy meestal by sy bewussyn was. Die prosedure was 14 ure lank en daar was 20 mediese personeellede in die teater.