Bfn-tiener toegelaat tot wêreldklasskool

0
124
Morgan Pelser (18) wat aanvaar is by die ALA in Johannesburg

‘n Matriekleerder aan The Tuition Centre in Bloemfontein, Morgan Pelser (18), het tydens die inperking groot nuus gekry: toelating tot ‘n wêreldklasskool, die African Leadership Academy (ALA).

Sy begin haar nuwe skooljaar op 1 September in Johannesburg, waar sy haar Cambridge A-vlakke oor twee jaar sal voltooi. Hoewel akademie ‘n belangrike rol speel, is ALA ook op soek na sterk leierskap- en entrepreneuriese eienskappe in voornemende studente tussen 15 en 18 jaar uit Afrika asook regoor die wêreld. Morgan het op ouderdom 11 jaar haar eerste besigheid begin en op 16 die nasionale SAGE (Students for the Advancement of Global Entrepreneurship)- kompetisie gewen.

“My plan is om my liefde vir wetenskap te kombineer met my ervaring in die sakewêreld, en om probleme in die wêreld op te los,” sê sy. Sy wou van kleinsaf ‘n uitvinder of wetenskaplike word. Sy is tans ingeskryf vir AS-vlakke in wiskunde, fisika, chemie en tale.

Sy gaan by ALA voort met drie voorvereiste A-vlakke benewens wiskunde en wetenskap. Morgan het vertel dat sy baie opgewonde is oor die nuwe uitdaging wat vir haar voorlê. Sy sê verder dat ALA net 130 nuwe studente per jaar inneem en dat die aansoekproses agt maande lank geneem het.

Dié jong entrepreneur verduidelik hoedat sy vir die laaste deel van die aansoek aanlyneksamens moes skryf, wat moeilik was, en onder meer ‘n toespraak oor haarself moes lewer, wat sy op video moes laai. Hoewel Morgan ‘n beurs van R750 000 losgeslaan het vir die twee jaar aan die African Leadership Academy, is die rekening vir koshuisverblyf en toerusting vir haar eie sak.

Haar ma en vriendinne het begin werk aan ‘n skarefinansiering-platform. Haar bladsy op backabuddy.co.za heet ‘Future Mars president needs funding’ vir diegene wat belangstel om haar te ondersteun.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za