Bfn-talent gaan Windpompfees laat kook

0
504
Zak Steyn

Aanhangers van Afrikaanse musiek word op 14 Maart 2020 bederf met ‘n skouspelagtige lekkerte wanneer Windmill Casino die toon-tikkende, heupswaaiende Windpompfees aanbied.

Vyf van die beste Bloemfonteinse kunstenaars, Jacobus Silwer, Zak Steyn, Balzak, Daniel Wesley en Francios Bouwer sal op die verhoog wees. Elkeen van dié kunstenaars bring hul unieke styl, klank en persoonlikheid na die fees om te verseker dat daar iets vir almal is om te geniet.

Hulle is bekend aan Afrikaanse musiekaanhangers wat kan uitsien om die gewilde sangers, wat almal reeds ‘n geruime tyd op die musiektoneel is, te geniet.

Jacobus het al verskeie kompetisies gewen, waaronder Bloemfontein Waterfront Idols en Bloemfontein’s Got Talent, en vyf liedjies en ‘n album vrygestel. Die musiekvideo van sy eerste solo-album, Genade vir Afrika, is baie goed ontvang en is deur bykans
100 000 op Facebook en 24 000 kykers op YouTube gesien.
Zak is al vir 20 jaar in die musiekbedryf, het in verskillende bands gespeel en het die afgelope 11 jaar solo gegaan.

Francois, ‘n groot treffer by feeste, het al by die KKNK, Aardklop, Vrystaat Kunstefees, iniBOS, Kersfees, Stookfees, Skulpie-fees, Gariep-fees, Haak en Steek-fees en vele meer, besoekers vermaak. Hy het ook by die Macufe-fees die verhoog met Johnny Clegg en die UK Flashmonkeys gedeel en is gereeld by die Vrystaat-stadion in Bloemfontein te sien waar hy die skare op hul voete hou ná die Cheetah-rugbywedstryde.

“Hierdie fees gaan oor familie, vriende en pret. ‘n Dag gevul met lekker kos, lewende musiek deur gewilde plaaslike talent en ‘n kinderarea om die kleintjies die hele dag te vermaak. Die beste plaaslike talent gaan die verhoog betree en ‘n verskeidenheid kos- en drankstalletjies is beskikbaar.

Dit alles gebeur hierdie maand by Windmill. Wees deel van ‘n ongelooflike ervaring, kom kuier saam met jou gunstelingmense en geniet ons sosiale stad,” sê Kamo Mohapi, bemarkingsbestuurder van Windmill.

Heidre Malgas
heidre@mahareng.co.za