Bfn-spelers oorheers pluimbal in Afrika

0
833
Die room van Bloemfontein se pluimbaltalent tydens die prysuitdeling ná die Suid-Afrikaanse Ope wat in Oktober 2021 in die Rosestad gehou is. Van links is Leah Schoeman, Caden Kakora, Nita Scholtz en Robert Summers.

Die room van Bloemfontein se spelers het hul greep stewig op pluimbal in Suid-Afrika en Afrika, en dit lyk nie of hulle dié greep gou gaan verslap nie.

‘n Handjievol uiters jong plaaslike spelers oorheers tans die kompetisies in die land en streek. Dit het daartoe aanleiding gegee dat die Vrystaat tans die provinsiale kampioen is en boonop elke liewe individuele titel gewen het by die SA Kampioenskapstoernooi wat in Oktober 2021 in Bloemfontein is.

Dié titels sluit in die mansenkelspel (Robert Summers – 19), vroue-enkelspel (Nita Scholtz – 21), mansdubbelspel (Robert en Caden Kakora – 18), vrouedubbelspel (Nita en Leah Schoeman – 24), en gemengde dubbelspel (Nita en Caden). Afrigter by die plaaslike Badminton High Performance Centre, Johan Kleingeld, sê ‘n gesonde en uiters opwindende toekoms staar pluimbal in die Vrystaat in die gesig. Hy sê hoewel bogenoemde vier spelers absoluut die room van pluimbal in die provinsie is, is daar nog heelwat spelers wat in die nabye toekoms kan presteer.

“Natuurlik oorheers dié vier nasionale pluimbal, maar Scholtz het einde verlede jaar die enkel- en dubbelspel in die Afrika-kampioenkapstoernooi gewen. Kakora, wat nog verlede jaar op Jim Fouché was, het by die Junior Afrika-toernooi die junior enkel- en dubbelspel gewen.

“Die plan is om hulle na internasionale toernooie in Europa te stuur om daar verder te groei en te presteer. Dié spelers werk ongelooflik hard (4 tot 5 ure per dag) en presteer briljant op die pluimbalbaan, maar kry nie altyd in Suid-Afrika die erkenning wat hulle verdien nie omdat pluimbal hier as ‘n ‘klein’ sport beskou word.

Pluimbal is egter die tweede grootste sport in die wêreld in terme van deelname. Dit is ook ‘n Olimpiese sport met ‘n vaste status. In Europa en die Ooste is dit ‘n volle professionele sport met baie geld en geleenthede. Dit is ons doel om ons spelers daar te kry,” sê Kleingeld.

Bloemfonteinse spelers se dominansie in wêreldpluimbal word verder bevestig deur die feit dat die SA Enkelspel-kampioenskapstoernooie vanaf 2013 net deur Bloemfonteinse vroue gewen kon word. Sandra le Grange, Elme de Viliiers, Janke van der Vyver, en nou Scholtz, het die afgelope aantal jare die septer in dié toernooi geswaai.

“Daar was ook al ‘n jaar dat die Vrystaat elke spantitel op nasionale vlak gewen het – van die o.13’s regdeur tot by die veterane,” sê Kleingeld.

Maar dis nie net spelers wat presteer nie. Die Vrystaat het ook die afgelope aantal jare verskeie SA afrigters asook tientalle puik administrateurs opgelewer. “Kwantiteit was nog nooit ons sterk punt nie en in terme van getalle is ons van die kleiner provinsies, maar daar is ‘n sterk klub- en afrigtingskultuur in Bloemfontein.

“Covid-19 het pluimbal hard getref die afgelope twee jaar, maar die ernstige spelers het hard bly oefen en die gereelde klubspelers het baie gespeel. Maar weens Covid was die fokus nie regtig op ontwikkeling nie. Dit lyk egter of 2022 meer normal gaan wees en dinge na normal gaan terugkeer,” sê Kleingeld.

Pieter Delport

pieterd@mahareng.co.za