Bfn slaggereed vir Proteas teen Engeland

0
658
Die Proteas sal vandeesweek vir die eerste keer seder Maart 2020 in Bloemfontein in aksie wees. Dit is ook die eerste internasionale kragmeting by die Mangaung Oval sedert die Covid-19 pandemie. FOTO: JOHAN PRETORIUS

Die Proteas en die wêreldkampioene, Engeland, sal Vrydag en Sondag sake in Bloemfontein uitspook in die eerste twee van drie internasionale eendagwedstryde.

Die derde kragmeting van die reeks sal aanstaande week in Kimberley beslis word.
Die reeks is ‘n belangrike een vir Suid-Afrika aangesien dit vanjaar ‘n wêreldbeker jaar is en die Proteas moet nog vir die spoggeleentheid, wat in Indië sal plaasvind, kwalifiseer.
Die Proteas het in Februarie 2016 laas teen Engeland in die Rosestad te staan gekom en die besoekers het daardie kragmeting by die Mangaung Oval met 39 lopies gewen. Die vorige wedstryd wat die Proteas in Bloemfontein gespeel het was egter in Maart 2020 toe hulle Australië met 6 paaltjies getroef het.

Beurtkrag is in Suid-Afrika ‘n groot bron van kommer en veral met dag-aandkrieket kan dit ‘n groot kopseer word. Die hoof uitvoerende beampte van Vrystaat krieket, Johan van Heerden, sê egter dat dit iets is waaraan hulle gedink het en gelukkig sal die ligte veral Vrydagaand aanbly.

“Met betrekking tot beurtkrag, ons het gelukkig ‘n baie goeie verhouding en vennootskap met die munisipaliteit én met Centlec,” het Van Heerden gesê.

“Hulle sal ons daarmee bystaan en dan het ons ook twee reserwe kragopwekkers indien iets skeefloop. Ons sien baie uit na die krieket. Ons het al sowat 4 000 kaartjies verkoop. Dit is so derde van waar ons wil wees.”

Kaartjies is nog beskikbaar vir die twee groot wedstryde teen ‘n koste van R150 (skoliere) en R250 (volwassenes).

Die eerste wedstryd sal Vrydagmiddag om 13:00 begin, met Sondag se kragmeting wat om 10:00 begin. – MORGAN PIEK