Bfn-skole bid saam vir Hoërskool Driehoek

0
979
Die Hoërskool Jim Fouché bid saam vir Hoërskool Driehoek. FOTO: FACEBOOK

Skole regoor die land bid vir die Hoërskool Driehoek nadat ‘n deel van ‘n loopburg by die skool ineengestort het.

Vier van die skool se leerders het tydens of na die tragedie, wat op Vrydag 1 Februarie plaasgevind het, gesterf, terwyl 20 ander leerders beseer is en sommige nog in die waakeenheid is.

Verskeie skole in Suid-Afrika het hande gevat om vir dié skool te bid. Ook in die Rosestad staan skole saam en word leerders, ouers, familie, vriende en personeel van Driehoek in die harte van mede-leerders in Bloemfontein gedra, terwyl beseerdes in hospitale ‘n spoedige herstel toegewens word.

Leerders en onderwysers van die Hoërskool Jim Fouché het gedurende pouse op Maandag 4 Febraurie bymekaargekom om vir die leerders van Driehoek te bid. Leerders van die Hoërskool Fichardtpark het ook hul meegevoel betuig deur ‘n pers en geel lint vir die week te dra, hetsy in die hare, aan die skooltas of om die arm.

Die Hoërskool Sentraal het ook hul medelye uitgespreek teenoor die skool waar die tragiese gebeure plaasgevind het. “Hoërskool Sentraal bid vir Hoërskool Driehoek se leerders, ouers en personeel. Ons treur saam met julle.”

Die Hoër Meisieskool Oranje het hul simpatie op sosiale media oorgedra. “Ons betuig hiermee ons innige meegevoel met die families van die oorledenes en beseerdes in die ongeluk by die Hoërskool Driehoek. Mag God julle wonde genees en aan julle vertroosting en aanvaarding skenk.”

Grey-kollege het gesê, “Ons innige meegevoel. In hierdie hartseer en moeilike tyd, gaan ons harte en gebede uit na die hele gemeenskap van die Hoërskool Driehoek en Vanderbijlpark. Ons is in besonder jammer om van julle verlies te hoor en ons bid al die ouers en gesinslede van die oorledenes, sowel as diegene wie se kinders steeds in die hospitaal is, krag en vetroosing van Bo toe. Mag julle gekoester word in Sy Vaderhand. Baie sterkte.” – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za