Bfn sien rooi oor water, vullis

0
495
Spanne munisipale werkers is saam groepeer om die agterstand in die noorde, sentrale sakekern en suide van Bloemfontein te hanteer. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN.

Die Demokratiese Alliansie (DA) het sy kommer uitgespreek oor die vullisverwydering- en watervoorsieningkwessies van die Mangaung-metromunisipaliteit (MMM). Volgens raadslid Rossouw Botes staan die stad op die rand van ‘n volgende beplande waterbeperkingbevel terwyl afvalverwydering steeds ‘n voortdurende probleem bly.

Die party hou volgende week ‘n gemeenskapsvergadering waar hierdie kwessies bespreek gaan word deur inwoners en belanghebbende groepe. Botes het gesê dat die belastingbetaler steeds aan die kortste ent trek wanneer dit kom by diensleweringsuitdagings wat die munisipaliteit in die gesig staar. “Wat die hele besigheid selfs erger maak, is dat die belastingbetaler die een is wat vir die hele gemors moet betaal,” het hy gesê.

Dit kom nadat vullissakke in die afgelope weke nie deur munisipale werkers opgelaai is nie. Dit was die gevolg van die metro se kostebesparingsmaatreëls toe oortydbetaling vir werkers opgeskort is deur die munisipaliteit. Volgens Botes is werkers buitensporig betaal vir oortydskofte. “Die finansiële krisis is taamlik groot. Sommige munisipale werkers het ‘n netto inkomste van ongeveer R20 000 per maand in die sak gesteek vir oortydwerk,” het hy verduidelik.

Die munisipaliteit het daarin geslaag om vullisverwyderingskwessies onder beheer te kry nadat ekstra trokke gebruik is om afval oral in Bloemfontein op te laai. Spanne werkers is saam groepeer om die agterstand in die noorde, sentrale sakekern en suide in te haal. “Gelukkig is die afvalkwessie nou onder beheer, hoewel daar hier en daar plekke is wat nog probleme ondervind, maar feitlik 90% is onder beheer.”

Personeel van Bfn Dental Care het onlangs moue opgerol om hul sypaadjie te help skoonmaak nadat die munisipaliteit hulle weer eens in die steek gelaat het. FOTO: PIETER DELPORT

Die raadslid het egter sy kommer uitgespreek dat die stad se vullisverwyderingsprobleme weer kan opduik indien die munisipale loonkwessie nie reggestel word nie. “Jy kan jou dit voorstel, aangesien die werkers so gewoond is om op gereelde basis daardie tipe betaling te kry en nou ewe skielik en naby Kersfees, verander sake. Jy kan dink wat die uiteinde hiervan sal wees,” het Botes bygevoeg.

Hy het ook gesê dat watervoorsiening in gevaar is en beperkings heelwaarskynlik ingestel gaan word in die middel van die feesseisoen. “Volgens ‘n brief skuld die munisipaliteit Bloemwater meer as R767 miljoen, wat die ou bedrag waaroor ‘n dispuut was, agterstallige rekeningbedrae en die rente insluit. Indien die bedrag nie vereffen word nie, gaan die persentasie watervoorsiening verlaag word na 30%.”

Volgens Bloemwater-woordvoerder, Kido Thoabala, is daar inderdaad ‘n 30-dag-kennisgewing aan die metro uitgereik oor verminderde watertoevoer weens wanbetaling, wat op 7 Desember 2019 van krag word. Sy het verduidelik dat damvlakke tans laag is weens weerstoestande in die streek.

Courant het gepoog om ‘n antwoord van Mangaung Metro se Qondile Khedama te kry, maar het teen druktyd geen kommentaar gekry nie.

Die vergadering deur die DA belê om oplossings te vind vir die vullis- en waterkrisis in die stad, vind op Dinsdag 19 November om 18:00 plaas in die  Eeufeessaal van die Hoërskool Sentraal. Alle belangegroepe en inwoners is welkom om dit by te woon.

Nomaqhawe Mtebele

nomaqhawe@mahareng.co.za