‘n Eenjarige seuntjie van Bloemfontein, wat drie verdiepings ver uit ’n woonstelgebou geval het, sterk goed aan. Hy het merkwaardig genoeg geen ernstige beserings opgedoen nie.
Dit is volgens klein Rechane se ma, Fezakiah Remmelien, nadat die kleintjie Vrydagmiddag om 15:00 uit ‘n woonstelblok in Heidedal geval het.
Remmelien, wat ten tyde van die voorval by die werk was, sê hy het op ‘n sitkamerbank geklim om ‘n venster (sonder diefwering) oop te maak, toe hy sy balans verloor en geval het.
“Ek was by die werk toe my suster se vriendin vir my ‘n Whatsapp-boodskap gestuur het. Ek het aanvanklik gedink dit is die eienaar van die woonstelle. Toe ek my suster in die agtergrond hoor huil, het ek dadelik gevra hoe dit met my kind gaan. Hulle kon my nie antwoord nie. Ek toe geweet wat gebeur het, was my grootste vrees gewees.”

“Daar was twee mans wat voor die woonstelgebou gesit het, Hulle sê dit het gelyk soos ‘n papier wat uit die lug geval het. Die een man sê hy was twee meter weg, maar hy kon hom nie vang nie.
Sy sê sy pa, Romario Colbert, het hom dadelik na die Pelonomi-Netcare-hospitaal gebring waar hy die naweek onder verdowing in die hoësorgeenheid deurgebring het. “Hulle is eintlik verbaas dat hy niks gebreek het nie; nie sy been, arm – niks nie. Die Here is goed.
Daar is egter ‘n klein merkie op sy skedel. Dokters sê dit is nie so erg nie. Hulle gaan hom van die hoërsorgeenheid na ‘n gewone saal oorplaas. Hy is in goeie hande, hy is klaar gesond.
Toe ek gister by hom was, het hy sy oë oopgemaak. ‘n Mens kon sien dat hy pyn het, maar hy is ‘n sterk seun,” sê Remmelien.
-Mark Steenbok