Bfn-roos wil kroon huis toe bring

0
630
Natascha Pieters van Bloemfontein, een van die Mrs Africa 2021-finaliste.

‘n Bloemfonteinse roos, Natascha Pieters (37), is op 31 Maart 2020 aangekondig as een van die finaliste vir die Mrs Africa 2021-skoonheidskompetisie. Vier en vyftig lande van regoor die kontinent se deelnemers ding mee om die titel in dié kompetisie en vir een van Bloemfontein se eie skoonhede is dit ‘n baie trotse oomblik om haar land te verteenwoordig.

Volgens Pieters wil sy graag vroue bemagtig om altyd die beste weergawe van hulself te wees. Sy het aan Bloemfontein Courant vertel dat sy ‘n gewone vrou is, met ‘n passie vir God en sy kinders. Sy is getroud met ‘n wonderlike man en hulle is die trotse ouers van twee pragtige kinders. “Ek is ‘n mens met baie liefde in my hart en ek hou daarvan om mense gelukkig en suksesvol te sien.”

Volgens haar het die ervaring tot dusver baie vir haar beteken. “Dit is vir my baie bemagtigend en ek het soveel geleer,” sê sy. Sy het besluit om deel te neem aan die kompetisie omdat sy graag ‘n inspirasie wil wees vir vroue wat opkyk na haar. Sy gaan hierdie platform gebruik om bewustheid te kweek vir depressielyers omdat sy glo daar word nie genoeg daaroor gepraat nie en baie mense verstaan dikwels nie dié gemoedstoestand nie. Sy beplan ook om ‘n high tea te hou om mense meer oor die onderwerp in te lig.

Die Mrs Africa-kompetisie het in 2001 ontstaan en het sedertdien so van krag tot krag gegaan dat dit steeds nuwe geleenthede aan deelnemers bied. Die kroning

van Mrs Africa vind in November by die Buffelspoort-oord plaas. Belangstellendes wat graag vir dié Bloemfonteinse skoonheid wil stem, kan op haar Facebook-blad meer inligting kry.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za