Bfn-popversamelaars bring tradisie terug

0
793
Marianne le Roux by die aanbieding van halfdoll-geskiedenis en die gebruik daarvan as speldekussings en teemussies gedurende die Victoriaanse tydperk.

Ten spyte daarvan dat baie projekte in die slag gebly het of uitgestel moes word weens die onverwagte Covid-19-pandemie wat die wêreld getref het, het die Bloemfonteinse groep popversamelaars, Old dolls and Toys, nie gras onder hul voete laat groei nie.

Hulle is besig met ‘n scrapbook, waar al hul projekte en aspekte wat deur hulle hanteer is sedert die stigting van die groep, opgeneem word, met agtergrondfeite en foto’s ter illustrasie. “Elke lid van die groep sal haar deel doen,” sê Betsie Roux, een van die versamelaars.

Sy vertel dat daar verskillende afdelings in die boek sal wees, waaraan verskillende mense in die groep gaan werk terwyl die boek van huis tot huis sal sirkuleer. “In hierdie stadium is die scrapbook nog in wording, maar ons is tevrede met die vordering daarvan.”

Die groep versamelaars is baie opgewonde oor die projekte wat vir hulle voorlê, veral omdat daar reeds baie gebeur het tydens die inperking. “Die Old dolls and Toys-groep het ook gegroei van 19 lede tot 31.”

Tuis-projek inskrywing

Roux vertel verder dat hulle ook in Oktober verlede jaar hande gevat het met die Oorlogsmuseum in Bloemfontein. Tydens ‘n byeenkoms by die museum, het hulle besluit om die tradisie van halfdolls, wat gebruik is as speldekussings, terug te bring. “Een van die lede het vir ons ‘n aanbieding gedoen rondom die gebruik van halfdolls en hoe ons die tradisie kan laat herleef.”

Die Oorlogsmuseum het ook aan die groep ‘n uitstalkas gegee waarin van die groeplede se poppe uitgestal is. “Die uitstalling duur tot einde Maart en mense van alle ouderdome kan dit besoek.”

Roux verduidelik dat enige persoon aan die groep se Februarie-projek, waar ‘n poppie in ‘n ou kassie, blik, prenteraam, ens., met sy bykomstighede, soos ‘n rokkie wat self gemaak is, uitgestal word, kan deelneem. Aan die einde van Februarie sal die bydraes geëvalueer word deur ‘n eksterne beoordelaar. Hierdie tuisprojek sluit op 2021/02/28.

Mense wat graag by die groep wil aansluit, kan Betsie Roux skakel by 082-413-9275.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za