Die polisie in Bloemfontein is steeds opsoek na ‘n 31-jarige man wat glo vanoggend op sy pa in hul huis in Fauna geskiet het en toe met sy bakkie op die vlug geslaan het.
Polisiewoordvoerder, Wendy Nkabi, sê die man het vanoggend omstreeks 07:00 vier skote in hul huis in Tsessebe-straat afgevuur, voordat hy weggery het. Die wit bakkie is later in Bochabela by ‘n vriend se huis gevind.
Volgens Nkabi het die seun vermoedelik te voet verder gevlug. Sy sê die man het na bewering sy 54-jarige pa daarvan beskuldig dat hy ‘n romantiese verhouding met sy meisie het.
Die seun se ma en meisie, wat tuis was ten tyde van die voorval, is nie beseer nie. Die pa is skrams deur ‘n koeël getref.
Bloemfontein Courant verneem dat hy vanoggend in ‘n hospitaal se noodgevalle-afdeling vir ‘n skraapmerk op die voorkop behandel. Hy is egter reeds ontslaan. Die seun is vermoedelik nog gewapen.
Christal-Lize Muller/Mark Steenbok