BFN planetarium ‘n hupstoot vir sterrekunde-navorsing

0
902

MARINÉ JACOBS

Die digitale planetarium wat eersdaags op Naval Hill in Bloemfontein sal pryk, gaan nie slegs mense toegang tot ‘n eerste-van-sy-soort sterrekunde-reis gee nie, maar ook baie vir navorsing en opleiding in die wetenskap beteken. Só sê ‘n rolspeler in die projek, Doktor Matie Hoffman van die Departement Fisika aan die Universiteit van die Vrystaat. Die planetarium is ‘n gesamentlike projek tussen die Universiteit van die Vrystaat, Mangaung Metro Munisipaliteit en die Vrystaatse Departement van Omgewingsake en Toerisme.

Hoffman sê dat die planetarium vir navorsers die geleentheid sal bied om hul bevindinge visueel voor te stel. Die planetarium koepel is ‘n medium wat jy kan gebruik om wetenskaplike data te visualiseer,” sê Hoffman. “Wanneer jy metings doen, eindig jy op met ‘n klomp getalle en as jy dit in ‘n beeld kan omskep, kan jy baie meer sin daaruit maak.” Hy sê dat die planetarium ook gebasseer sal wees op ‘n enorme professionele databasis bekend as The Digital Universe, wat enkele eeue se ontdekkings bevat en deur gevorderde sagteware beeld visueel voorstel.

Die planetarium sal die eerste digitale planetarium in Sub-Sahara Afrika wees, wat natuurlik nie net baie vir Bloemfontein se sterrekunde-gemeenskap sal beteken nie, maar ook vir toerisme in die provinsie. Hoffman verduidelik dat ‘n gewone planetarium met opto-meganiese projektors werk wat ‘n realistiese sterrehemel op ‘n planetariese koepel projekteer. “Daardie projektors kos miljoene rande en hulle kan net een ding baie goed doen. ‘n Digitale planetarium maak gebruik van gevorderde digitale data projektors wat dan gesamentlik ‘n volkoepel videobeeld met miljoene pixels op die planetarium-koepel skep,” verduidelik Hoffman. “Dit is dus ‘n digitale projeksie teenoor ‘n opto-meganiese projeksie en die voordeel van die digitale planetarium is dat jy enige materiaal wat jy met ‘n data-projektor kan projekteer, ook op die koepel projekteer. Dit is dus ‘n baie meer veeldoelige fasiliteit.”

Hoffman wou vir eers nie verklap wanneer die planetarium sal klaar wees nie, maar sê bouers het reeds op die terrein begin. Hy sê dat hulle vroeg in 2013 meer inligting rondom die opening sal bekendmaak.