Bfn-paramedici se saak begin Januarie

0
727

Die verhoor van twee Bloemfonteinse paramedici, wat glo onder meer mediese voorraad gesteel het, begin op 25 Januarie 2016 in die Bloemfonteinse streekhof.
Lelani Dry en André Louw, wat vir Netcare 911 in Bloemfontein gewerk het, het Maandag vlugtig in die plaaslike landdroshof verskyn.
Dry staar aanklagte van die besit van gesteelde goedere en onwettige ammunisie in die gesig, terwyl Louw van die besit van beweerde gesteelde goedere aangekla is. Die twee is blykbaar kop in een mus. 
Dry is eers vir beweerde winkeldiefstal in hegtenis geneem. Die polisie het later beweerde gesteelde mediese voorraad in haar besit gevind. Sy het toe vir Louw as medeskuldenaar aan die hof uitgewys. 
Die polisie het by Dry se huis in Bainsvlei buite Bloemfontein beslag gelê op mediese voorraad en medisyne ter waarde van R100 000. – Owen Kock
owen@centralmediagroup.co.za