Bfn-monumente lyk goed, sê AfriForum

0
1313
Die Boereoorlog-museum en Vrouemonument is in ‘n goeie toestand.

Die AfriForum-tak in Bloemfontein het ’n suksesvolle monumentoudit by drie plaaslike monumente in die stad gedoen.

Die burgerregteorganisasie doen ’n jaarlikse oudit om die historiese monumente in Suid-Afrika te evalueer en sodoende rekord te hou van watter monumente aandag verg.

Die oudits word gedoen om die standaard van die monumente te evalueer sowel as om te kyk of die erfenisgebiede instand gehou word. Kriteria sluit onder andere sekuriteit, toegangsbeheer, beligting en netheid in. Die Brits-monument, op die terrein van die Ou Presidensie, die President Brand-begraafplaas en die AngloBoereoorlog-museum/Vrouemonument is geoudit.

Die Bloemfontein-tak onderhou sedert verlede jaar die President Brandbegraafplaas en die Brits-monument, en word bygestaan deur Anchor of Hope met die skoonmaakprojek.

“Dit is vir my so lekker om by die Anglo–Boereoorlog-museum in te stap. Omdat die werk geprivatiseer is, is alles so netjies, in plek, skoon en veilig. Dit is ‘n fees om daar te oudit,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Bloemfontein het verlede jaar ‘n toekenning ontvang vir die beste volhoubare monumente en die projekte wat die AfriForum-tak aanpak.

Die Bloemfontein-tak het ook ’n finansiële bydrae aan die Bloemfonteinse Voortrekkers gemaak om hulle by te staan met herstelwerk op die Doornkloof-Voortrekkerplaas wat skade in die onlangse oorstromings gely het. Dié kampterrein word ook as deel van Suid-Afrika se erfenis bewaar.

Indien jy AfriForum wil bystaan om die land se erfenis en monumente te bewaar SMS “AfriForum” na 45344. ‘n SMS kos R1.

Jeretha Oosthuizen

jeretha@mahareng.co.za