BFN mans ook slagoffers van mishandeling

0
6439

MARINé JACOBS

Vroue-mishandeling is ‘n probleem wat dikwels in die kollig is, terwyl daar meestal ‘n blinde oog op die lot van mishandelde mans gedraai word. Karen Botha, direkteur van FAMSA, sê dat mans wat die slagoffers van gesinsgeweld is, beslis ‘n kommerwekkende probleem is. “Op hierdie stadium is daar nie regtig statistieke beskikbaar nie,” sê Karin. “Daar is wel mans wat mishandel word, maar hulle kom nie sommer na vore nie. Ek onthou ‘n geval wat ek meer gewerk het hierdie vrou die mans so mishandel, dat hy letterlik gevrees het vir sy lewe. Sy het goed gedoen soos kookwater op hom uitgegooi en baie geweldadig teenoor hom opgetree.”

‘n Bloemfonteinse staatsaanklaer in die gesinsgeweldhof, Ronel Botha, sê dat sake van mishandeling teen mans baie selde gerapporteer word. Volgens Botha sal sulke sake ongeveer twee keer ‘n jaar voorkom en dan gewoonlik buite die hof geskik word. Sy sê ook dat polisie baie meer geneig is om streng teen ‘n geweldadige man op te tree, terwyl vroue dikwels wegkom met ‘n blote waarskuwing. Karin Botha stem saam en sê dat mans nie sommer sal aanmeld indien hulle mishandel word nie. “Omdat mans veronderstel is om die sterker een in die sisteem te wees, kom hulle nie sommer na vore nie vanweë hierdie gevoel van trots of skaamte wat hulle het.”

So wat dryf ‘n vrou om haar lewensmaat aan mishandeling te onderwerp? “Vrouens [wat hul mans mishandel] het dikwels grootgeword in ‘n geweldsiklus, waar hulle dit gereeld waargeneem het,” sê Botha. “Hulle het ‘n onmag om hulself te hanteer en wil graag in beheer wees, dan gebeur dit dat hulle geweldadig teenoor die man optree.” Botha sê dat terapie in só situasie noodsaaklik is. Sy sê ook dat dit nodig is om te bepaal of die vrou nie moontlik ‘n psigologiese afwyking het nie sodat sy na ‘n sielkundige of psigiater verwys kan word indien nodig.

Botha moedig mans aan om hulp te kry indien hulle mishandel word. “Dit is so moeilik om in so verhouding te bly en sommige word vasgevang in so verhouding, omdat die skuldige dikwels geneig is om die ander persoon te dreig met selfmoord. Die paartjie móét gaan vir terapie om te kyk wat moet verander. ‘n Mens voel amper geweld hoort by ‘n man en wanneer die geweld by ‘n vrou voorkom, is die trauma soveel erger in ‘n gesinsopset,” sê Botha.

Mishandeling kan by jou naaste polisiestasie aangemeld word, asook by die Tshepong Krisissentrum op die gronde van Nasionale Hospitaal in Bloemfontein. Vir ondersteuning en bystand rakende gesinsgeweld, kan FAMSA op 051 525 2396 gekontak word.