Bfn-mannekoor vier 20 jaar op hoë noot

0
1594
Die Bloemfontein-mannekoor saam met koorleier, Ansphi van der Walt, wat vanjaar na Pole (Krakov), Budapest en Wenen gaan.

Hierdie jaar is ‘n groot jaar vir die Bloemfontein-mannekoor, wat vanjaar hul twintigste bestaansjaar vier. Vir dié geleentheid word ook ‘n groot toer oorsee beplan.

Volgens die koorleier, Ansphi van der Walt, is daar ‘n propvol jaar wat vir die koor voorlê. Hulle beplan ‘n spesiale verjaardagkonsert, ‘n damestee, toere na Gauteng en die Oos-Kaap en vertrek ook op 3 Desember na Pole (Krakov), Budapest en Wenen om daar aan die advent- and Kersfeeskompetisies deel te neem.

Sy het verder verduidelik dat hulle graag die inwoners van die stad wil vra om hulle te ondersteun om geld in te samel om die toer ‘n werklikheid vir al die mans te maak. Bloemfontein moet op die uitkyk wees vir al die opwindende geleenthede wat die koor gaan aanbied. “Ons gaan in April ‘n gholfdag hou waar mense groot pryse kan wen.

Dit is maar net een geleentheid vir die stad om betrokke te raak. Diegene wat graag die gholfdag wil bywoon kan Lourens skakel by 082-808-1045.

Van der Walt wil ook Bloemfontein se manne uitnooi om vir oudisies te kom omdat sy hoop om ‘n groot groep hierdie jaar oorsee te neem en om hulle ook vir ander geleenthede te gebruik. Sy sê hulle oefen Dinsdagaande in die sangklas van die Hoërskool Sand du Plessis.

Oudisies vir mans tussen 18 en 60 jaar kan bespreek word by 076 -277-4527.

Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za