Bfn Mannekoor stel 20-jaar-feesvieringe uit

0
488

Die afgelope 20 jaar het verbygevlieg vir die Bloemfontein Mannekoor (BMK) en volgens koorleier Ansphi van der Walt is ’n droom verwesenlik as sy terugdink aan die 20-jarige bestaan van dié gewilde koor en die genot wat manstemme aan vele gehore verskaf het.

Die koor het oorspronklik met ’n ledetal van sewe mans begin en ontwikkel tot die volwaardige en gerespekteerde mannekoor wat dit vandag is. Van der Walt het aan Bloemfontein Courant gesê dat die groot planne wat hulle vir hierdie jaar gehad het, sal moet oorstaan na volgende jaar en wanneer hulle die groen lig kry om weer te kan begin oefen.

“Twintig jaar in enige instelling se bestaan is ’n groot hoogtepunt, veral as dit by kultuuraktiwiteite kom. Beplanning vir ons feesvieringe hierdie jaar het onder meer twee gholfdae, ’n formele “Ladies’ High Tea” en ons jaarlikse koorfees ingesluit.

Die hoogtepunt van ons feesvieringe sou die toer aan die einde van die jaar na Oos-Europa gewees het, waar ons aan kompetisies in Krakow, Boedapest, Wenen en Praag sou deelgeneem het.”

Vir Van der Walt was die grootste hoogtepunt in die 20 jaar die BMK se toer na Wallis waar hulle aan die Llangollen Eisteddfod deelgeneem het en met 0,7 punte tweede gekom het teen ’n Walliese koor. Mans tussen 18 en 60 jaar wat steeds by die BMK wil aansluit, kan Van der Walt by 076 -277-4527 kontak.

Op die oomblik is daar geen kooroefeninge nie en hou hulle kontak deur middel van ’n WhatsApp-groep.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za