Bfn-man se noue ontkoming nadat motor op gladde pad gly

0
1417
Die ongelukstoneel vanoggend in Kolbeweg waarin Janco Rautenbach se motor gegly en op sy sy beland het.

Die 21-jarige Janco Rautenbach van Bloemfontein het vanoggend ‘n noue ontkoming gehad toe sy motor op ‘n gladde teeropvlak in die stad gegly en op sy sy beland het.

Rautenbach het gelukkig net met ligte beserings weggekom nadat sy motor in Kolbeweg in Willows gegly het omdat dele van die pad gevries was weens die koue wat Bloemfontein en die grootste deel van die land tans in sy ysige greep het.

Volgens Rautenbach was daar geen ander mense of motors by die ongeluk betrokke nie, en is hy gelukkig om net met ‘n beseerde skouer weg te stap.

“Die kar het net skielik begin gly weens die ys op die pad. Ek wou die kar terug op die pad kry, maar dit het nie gehelp nie. Toe tref ek die sypaadjie en die kar beland op sy sy,” vertel Rautenbach.

Rautenbach sê hy is net hartseer oor sy motor, want sy harde werk is nou daarmee heen.

Nog koue word vir Bloemfontein voorspel en motoriste word gevra om ekstra versigtig te wees wanneer hulle bestuur.

Die gevriesde padoppervlak waar die ongeluk plaas gevind het.

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za