Bfn-leerder wen goud op ekspo

0
552
C&N Sekondêre Meisieskool Oranje leerder, Mia Delport.

Nog ‘n leerder van die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje, Mia Delport, het ‘n goue medalje losgeslaan op die Internasionale Ekspo vir Ingenieurswetenskap en Tegnologie in Tunisië vir haar “goeie higiëne-projek”.

Mia het virtueel deelgeneem aan die ekspo, en sê sy is baie trots om te kan sê dat sy as ‘n Suid-Afrikaner ‘n goue medalje gewen het, dit onder baie talentvolle jong wetenskaplikes van regoor die wêreld.

Mia se self-saniteer-deurmeganisme is ‘n uitbreiding van die gewilde handsaniteerder wat met die voet beheer word. Sy het ‘n laekoste-vrystellingsmeganisme ontwerp wat ‘n handsaniteerder aktiveer terwyl dit aan ‘n deurslot gekonnekteer is sodat die deur slegs oopgemaak kan word nadat ‘n persoon se hande gesaniteer is. Dit verseker dat ‘n honderd present mense hul hande saniteer nadat hulle ‘n openbare toilet gebruik het.

Die talentvolle jong wetenskaplike vertel dat dit ‘n uitdaging was om virtueel aan die ekspo deel te neem, veral weens die groot aantal inskrywings. “Die aanlyninteraksie met die organiseerders en beoordelaars was soms baie uitdagend, maar die beoordelaars se terugvoer was positief en bemoedigend,” sê sy.

Eskom Ekspo se uitvoerende direkteur, Parthy Chetty, sê hulle is baie trots op Mia. Sy het meegeding teen van die bestes in die wêreld en uitgestaan met haar wenprojek. “Sy het ‘n blink toekoms voor haar en is ‘n rolmodel vir jong meisies in ons land, ‘n bewys dat ‘n mens op die ou end die vrugte pluk van jou harde werk. Ek wil alle leerders aanmoedig om nou reeds te begin dink oor hul 2022-ekspoprojek.”

Sazly Hartzenberg

sazly@mahareng.co.za