Bfn-leerder ryg die wetenskappryse in

0
1133
Abigail Bloem wen goud by die SA Jeug- Ingenieurswese- en Wetenskapsimposium.

As dit by wetenskap kom, staan die vyftienjarige Abigail Bloem van Eunice Girls’ High vir niks of niemand terug nie en ryg sy die een na die ander toekenning met gemak in.
Dié deursettingsvermoë wat sy aan die dag lê, het daartoe gelei dat sy die enigste leerder uit die Vrystaat is wat gekies is om die land later vanjaar op die Genius-wetenskap-olimpiade in New York te verteenwoordig.
Dit kom ná ‘n besige jaar waarin dié Graad 10-leerder ook haar nuwe Smart-verkeersligstelsel ontwikkel het. Die Smart-stelsel stuur ‘n boodskap aan tegnici om hulle in kennis te stel van foute op verkeersligte en watter verkeersligte geraak word. Dit help dat verkeersligte beter werk as wat hulle tans doen. Sy het die idee vir haar projek gekry omdat sy verkeersligte in die moderne tyd se tegnologiese vermoëns wou opknap. Die stelsel, wat met son- en windkrag integreer om 100% te funksioneer, kan selfs tydens beurtkrag gebruik word.
Bloem spog reeds met die volgende toekennings: Eskom se Streekekspo vir Jong Wetenskaplikes (Bloemfontein Julie 2019); Spesiale Toekenning vir Beste Ontwikkeling; Eskom se Internasionale Wetenskapskou (Johannesburg September 2019); Goud vir die Beste Projek in die kategorie Ingenieurswese; Mees Uitnemende Projek in Elektriese Ingenieurswese; SA se Top-Junior Wetenskaplike met die bes voorgelegde projek op die skou; Goud by die Suid-Afrikaanse Jeug- Ingenieurswese- en Wetenskapsimposium, (Pretoria November 2019). By laasgenoemde is sy gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig op die Genius-wetenskap-olimpiade in New York in Junie vanjaar.

Abigail Bloem wys haar wetenskaptalent tydens ‘n eksperiment by Central Media Park.

Bloem het aan Bloemfontein Courant vertel hoe opgewonde sy is oor die opwindende ervaring wat vir haar wag asook oor wat die toekoms inhou. “Ek sien uit na die interaksie met verskillende mense van regoor die wêreld. Ook met mense wat dieselfde dink en net so baie van wetenskap hou as ek. Maar waaroor ek die meeste opgewonde is, is om ‘n Amerikaanse sny pizza te eet!”
Haar boodskap aan ander leerders is “om hul spark te vind”, iets waaroor hulle regtig passievol is, en dan hard te werk daaraan. “Probeer om jouself in die toekoms te plaas, êrens waar jy regtig wil wees, en maak dit jou doel! Doen, of doen nie. Daar is geen probeer nie en moed opgee is nooit ‘n opsie nie,” sê Bloem. – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za