Bfn-leerder kry puik kans in dramawêreld

0
315

Eugene Oosthuizen (18) van Bloemfontein, wat tans in matriek is aan die Hoërskool Fichardtpark, leef in sy vrye tyd sy passie vir drama, toneelspel en musiek uit.

‘n Opwindende geleentheid het oor dié jong kunste-entoesias se pad gekom; iets wat hy voel hy nie deur sy vingers kan laat glip nie.

Dit kom nadat hy die afgelope twaalf maande ‘n dramakursus gevolg het en nou ‘n kans het om ‘n verdere vier-maande-kursus wat aangebied word deur Anthonie Bougas en gementor word deur Desiré Gardner, Izak Davel en Vilje Maritz, te voltooi.

“Om dit moontlik te maak om via ‘n aanlynkursus verdere onderrig te ontvang en ook die werkswinkel een keer ‘n maand vir die volgende vier maande in Pretoria by te woon, het ek finansiering nodig. Ek wil bitter graag my passie verder uitleef,” sê.

Eugene het besluit om die gemeenskap van Bloemfontein te vra om hom te ondersteun en dit vir hom moontlik maak om die kursus by te woon. “Ek vra nederig dat mense my borg. Die koste is te veel vir my om self reg te kom.”

Volgens Eugene beloop die kursusgeld R3 750 per maand vir die viermaande-periode (totaal R15 000). Reiskoste is ook taamlik hoog weens die toename in brandstofpryse en die koste beloop ongeveer R2 500 retoer per maand (totaal R10 000 afgerond), terwyl verblyfskoste R1 000 per nag (totaal R4 000 afgerond oor ‘n tydperk van vier maande) uitwerk.

Persone wat Eugene wil help om die kursus te voltooi, kan hom bel by 082-542- 9067.

Sazly Hartzenberg

sazly@mahareng.co.za