Bfn-kunstenaar neem ‘medley’ op

0
1125
Hardin West, wat sy eerste medley opgeneem het.

Die jong sanger, Hardin West, het van kindsbeen daarvan gehou om sy verbeelding vrye teuels te gee wanneer hy voor ‘n kamma-gehoor opgetree en luidkeels gesing het in die sitkamer van sy ouerhuis.

Vandag reken hy dat dit maar goed was dat dit net hy was, aangesien hy skaars kon noot hou. Die teendeel is egter bewys toe hy hierdie maand sy eerste medley opgeneem het.

Die jong kunstenaar het nooit musiek as ‘n kulturele aktiwiteit op skool gehad nie, hoewel hy van jongs af ‘n liefde vir musiek gekoester het. “Ek het myself maar geleer sing en om musieklees,” vertel hy.

Op die vraag van waarom hy besluit het op ‘n Neil Diamond Medley, verduidelik hy aan Bloemfontein Courant, “Baie mense dink dit is weird dat ek so baie van ou musiek hou terwyl ek eintlik jonk is. Ek is mal oor Country en musiek van die 1980’s, musiek van mense soos Queen en dan ook Neil Diamond.”

Hardin het op die verhoognaam, Hardin West, besluit omdat die fliek, After, se hoofkarakter Hardin Scott was. Dit was vir hom ‘n pragtige liefdesfliek wat hom weer in die liefde laat glo het, terwyl die van, West, verwys na die son wat altyd onder gaan in die weste en wat altyd vir mense nuwe hoop gee.

Mense wat na Hardin West se Neil Diamond Medley wil luister, sal dit op YouTube kry by: www.youtube.com/watch?v=Pps0xaA6j2w (video saamgestel deurJandré Huygen).

 

Sazly Hartzenberg

sazly@mahareng.co.za