Bfn-klub hengel vir ‘n beter lewe

0
354
Marike Bridge maak een van haar leerlinge touwys.

“Jy kan iemand ‘n vis gee of jy kan hom leer hengel”.
Twee persone wat hierdie woorde ter harte geneem het, is Kobus du Plooy en Marike Bridge – stigters en bestuurders van die plaaslike Bloemfontein Supercast Fishing Academy. Maar hierdie is nie sommer net enige visvangklub nie.

Dis ‘n baie spesiale stigting wat poog om kinders, veral kinders uit minderbevoorregte agtergronde, aan die wêreld van hengel voor te stel en hulle in sekere omstandighede in ‘n meer positiewe omgewing te plaas.

Du Plooy sê, “Ons wil bitter graag meer kinders betrokke kry en hulle wegkry van rekenaarspeletjies en televisie sodat hulle in die buitelug kan leer hoe om te hengel.”

Die Supercast Fishing Academy reël elke maand twee hengeluitstappies na verskeie bekende visvangoorde soos Krugersdrift, Kalkfontein, Tom’s Place en Bloemhof. En alhoewel Bridge en Du Toit daarop fokus om kinders te leer hengel, is die akademie oop vir almal – wat dit dan juis die perfekte geleentheid maak vir families om kwaliteit-tyd saam deur te bring.

Die twee se hengelklub, voorheen bekend as die Pro Mania Fishing Academy, sou nie moontlik gewees het as dit nie was vir die onbaatsugtige borgskap van Supercast-hengelprodukte nie. Die betrokkenheid van Schalk van Breda se maatskappy sorg nie net dat ‘n wye reeks gratis produkte aan die akademie geskenk word nie, maar ook dat lede geen lidmaatskapgeld hoef te betaal nie.

Volgens lidmaatskapsyfers is hengel die grootste “georganiseerde nie-georganiseerde” sport in die wêreld, vertel Schalk. “Daar is meer hengelaars in Suid-Afrika as wat daar krieket- of rugbyspelers is,” sê hy.

Min mense weet natuurlik dat Suid-Afrika in die laaste paar jaar nie minder as vyf wêreldhengelkampioene opgelewer het nie. In ‘n stadium het Suid-Afrikaners vier jaar agtereenvolgend die wêreldbeker verower.

As jy Suid-Afrika se relatiewe klein bevolking in ag neem, is dit ‘n wonderbaarlike prestasie! Maar soos Schalk sê, “Die slegte ding van ons sport is dat ons nie ‘n toeskouersport is nie, so dit plaas ons bietjie onder die radar.”

Hengel kan ‘n duur stokperdjie wees. Maar waar moontlik, skenk die akademie via Supercast al die nodige hengeltoerusting aan minderbevoorregte kinders. “Maar dis mense soos Kobus en Marike, wat agter die skerm werk, wat eintlik die helde is,” meen Schalk.
Bridge en Du Toit het groot planne.

Bridge, wat besig is om bekendheid te verwerf in Bloemfontein vir haar Murder Mystery-aande, sê hulle poog veral “om hengel onder ons kinders te bevorder sodat ‘n skole liga gevorm kan word.”

Belangstellendes wat lede wil word, kan Du Toit kontak by 083-288-6810 of op Facebook onder Supercast Fishing Academy.

Vernon Bauman
Vernon@centralmediagroup.co.za