Bfn Kinderkoor trek gehore wêreldwyd

0
219
Die Bloemfontein Kinderkoor by Buckingham-paleis

Die Bloemfontein Kinderkoor is steeds in die wolke nadat hulle hierdie maand die Sterling Bridge International Youth Festival bygewoon het. Koorleier, dr. Huibrie Verster, het aan Bloemfontein Courant gesê dat baie van die seniors ongelukkig die koor gaan verlaat om vir hul finale eksamen voor te berei. “Ons gaan nou terug na die tekenbord en beplan oudisies vir nuwe koorlede wat graag deel van hierdie dinamiese groep wil wees.”

Die Bloemfontein Kinderkoor kon in verskeie katedrale optree.

Dit was vir die koor ‘n groot voorreg om op BBC-TV te verskyn, en nog ‘n hoogtepunt was toe hulle in Perth opgetree het. Verster praat met groot lof van Willie Venter se bydrae tot die koor se sukses. “Hy het gesorg dat die koor momentum behou en is regtig só goed vir ons.”

Die groep wat oorsee gegaan het.

Hoofseun van die koor, Karabo Phutsisi (17), is al vir 8 jaar ‘n lid van die koor. Hy beskryf die onlangse toer as asemrowend. “Dit was ‘n eer om saam met hoog aangeskrewe kore in die wêreld op te tree.” Die onvergeetlikste oomblik vir hom was die eerste vertoning in Londen saam met die Cantate Youth Choir en Peabody Children’s Choir. “Ons het ‘n staande ovasie gekry,” vertel hy trots.

Die Bloemfontein KinderKoor het saam met verskillende groepe opgetree tydens hul toer oorsee.

Nog ‘n koorlid, Ayabulela Nkwakwa (16), sê dat hierdie toer vir haar “iets anders” was, “iets betowerend, uiters opwindend, en ‘n groot eer.”
Willie Venter is van mening dat die koor beslis uitgestaan het vir hul stemme en bewegings. Die feit dat hulle so jonk is het daartoe bygedra dat hulle op die BBC-program verskyn het. “Daar is ook geen ander koor wat doen wat hierdie een doen nie,” sê hy. “Die mense het ons oral so goed ontvang; die hele geleentheid was net WOW!”

Op die vraag of daar vir haar enige aftreeplanne is, het Verster met ‘n glimlag gesê dat sy by die koor sal aanbly vir solank God haar daar wil hê. Daar is nog soveel wat sy hulle wil leer en saam met hulle ervaar. Die toer het net weer eens aan haar bewys dat die Vrystaat ‘n juweel het in hierdie koor. “Met die hulp van die choreograaf, Willie Venter, het ons regtig ‘n wenkombinasie.”

Voornemende koorlede wat ‘n oudisie vir die koor wil doen, kan Eloréze Pieterse kontak by 072-294-4117.

SAZLY HARTZENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za