Bfn Kinderkoor motiveer ander kore

0
1527
Verskillende kore tree op tydens ‘n Ons Sing Saam-optrede in die Universitas-geloofsentrum.

Die Bloemfontein Kinderkoor het gehore oor die afgelope jare in vervoering gehad met hul pragtige stemme. Die koor het verlede naweek opgetree saam met die laerskoolkore van Jim Fouché en die Meisieskool Oranje en sodoende die prestasies van hierdie kore erken en hulle geïnspireer en gemotiveer vir die toekoms.

Die Bloemfontein Kinderkoor is bekend vir optrede op internasionale verhoë sedert 1987 en het verskeie toekennings regoor die wêreld ingepalm. Die koor is onder meer twee keer as Bloemfonteinse Instelling van die Jaar aangewys en musiekkenners reken die koor as een van die top 5-kinderkore in die wêreld.

Hulle het op plekke soos België, Swede, Spanje, Rusland, Kanada, die VSA, Nederland, Oostenryk en Hongarye opgetree. Van die hoogtepunte vir die koor was toe hulle deel was van ‘n TV-uitsending saam met die Mormoonse Tabernakelkoor in Salt Lake City in die VSA, toe hulle opgetree het by die inhuldiging van Thabo Mbeki, deel was van Willie Venter se Moments-produksies en toe hulle vir Nelson Mandela kon sing.

Die koor was ook deel van verskillende uitreike en projekte wat die opening van die Macah-stigting insluit asook die openingseremonies van die Suid-Afrikaanse Sport vir Liggaamlik Gestremdes en fondse help insamel het vir die Nelson Mandela-kinderfonds tydens ‘n spesiale konsert in België.

Die koorleier, Huibrie Verster, sê die Kinderkoor het verlede naweek hul jaareindgeselligheid gehad. Sy is nou besig met oudisies vir nuwe koorlede en hoop dat die kinders goed uitrus na ‘n jaar van uiters harde werk.

Verster is vir die afgelope 31 jaar betrokke by die koor. Musiek was nog altyd haar passie. In die tydperk as koorleier het sy al 18 keer die koor vergesel op oorsese toere. Die koor is ook genooi om volgende jaar in Skotland op te tree by ‘n musiekfees en is baie opgewonde oor wat voorlê.

“Aan die begin was ek nie seker hoe ek sou regkom met jong kinders en kinderstemme nie, sommige van hul stemme moes nog breek, en ek het ook nie geweet of ek in staat sou wees om die dissipline wat met kooronderrig gepaard gaan sou kon handhaaf nie, maar soos wat die jare verbygegaan het, het ek baie geleer. Ek dink dat ek nou 90 persent weet van wat daar te wete is oorkinderstemme,” het sy gesê.

Verster het verduidelik dat die koor bestaan uit seuns sowel as meisies van Bloemfontein en omliggende gebiede tussen die ouderdomme agt en sestien. Die koor is gebaseer op die idee dat elke individu uniek is en verdien om liefgehê en gerespekteer te word. – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za