Bfn-kamerkoor sing Europa aan die brand

0
75
Lede van die Cisticola Cantans-toergroep is van links, voor: Estia Kruger, Velka Laubscher, Joanita Erasmus-Alt (koorleier), Marian Labuschagne, Annelize van der Merwe en Riana Botha; agter: Lené Griessel, Sharon de Kock, Anna van Niekerk, Comien van Niekerk, Lize Louw, Maryke Labuschagne, Erma Grové en Liesbeth Louw.

‘n Bloemfonteinse kamerkoor, wat maar eers aan die begin van 2018 gestig is, het vriend en vyand verras deur tweede te kom in ‘n internasionale Kersmusiekkompetisie in Krakow, Pole.

Cisticola Cantans, wat 89% in die kompetisie behaal het, is naelskraap geklop deur ‘n koor van Noorweë wat 90% behaal het.

Cisticola Cantans (die wetenskaplike naam vir ‘n inheemse voëltjie) het die prestasie behaal ten tyde van ‘n Europese toer in Desember 2018.
Joanita Erasmus-Alt, koorleier, het in ‘n eksklusiewe onderhoud aan Bloemfontein Courant gesê vir haar was die hoogtepunt van die toer ongetwyfeld die gala-konsert in die St. Catherine-kerk in Krakow.

“Ons koor het die slot-item gelewer, en terwyl al die ander kore elk een lied moes sing, het ons die geleentheid gehad om twee liedere te sing. Ons het die aand afgesluit met Clarabelle van Niekerk se Roep die engele.

“Een van die frases in die lied, ‘Roep die engele dat ons ‘n lofsang kan sing’, vat die dankbaarheid wat ons ervaar vir só ‘n wonderlike geleentheid op ‘n treffende wyse saam,” sê Erasmus-Alt.

Die koor se toer het die Tseggiese Republiek en Pole ingesluit. In die Tseggiese Republiek het hulle optredes in Ceske Budejovice en Praag gehad en in Pole het hulle in Wroclaw en Krakow opgetree. Die toergroep het bestaan uit twee violiste, Sharon de Kock en Anna van Niekerk, asook 11 sangers waarvan die ouderdomme van 16 tot 76 wissel.

“Benewens die musici was daar nog 11 ‘cheerleaders’ (ouers en vriende) saam, wat ons baie ondersteun het. Ons het spoedig soos een groot familie gevoel en bande gesmee wat nog lank sal voortduur.

“Ons het inderdaad baie geleer en die blootstelling aan ander kulture was ons vir ‘n verrykende ervaring. In Pole het ons ook ‘n besoek aan Auschwitz gebring, waar die ontsettende lyding ‘n mens aan die hart gryp,” sê Erasmus-Alt.

Wat hou die toekoms vir Cisticola Cantans in? Volgens Erasmus-Alt gaan die koor vanjaar sy repertorium uitbrei en benewens plaaslike optredes hier in Bloemfontein dalk ook ‘n kort toer deur die Tuinroete onderneem.

“Indien dit ons beskore is, sal ons graag oor so twee of drie jaar weer ‘n Europese toer wil onderneem.” – Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za