Bfn-inwoner finalis in boereworskompetisie

0
960

Die top-10 in vanjaar se Shoprite-Checkerskampioenboereworskompetisie is uiteindelik aangekondig en Bloemfontein se eie Marius Maritz is een van die tien.

Maritz neem die afgelope twaalf jaar al aan die kompetisie deel en hoop om die groot prys aan die einde van alles te wen. “My grootste motivering is om te kyk of ek nie my boerewors op die rakke van Shoprite-Checkers kan kry nie, en dan, natuurlik, die Toyota Fortuner as eerstepryswenner in te palm,” sê Maritz.

Dié boerewors-entoesias het al ‘n paar provinsiale rondes gewen, maar vanjaar is die eerste keer dat hy die top-10 bereik. Hy vertel aan Bloemfontein Courant dat dit ‘n baie groot voorreg is om in dié groep te wees.

In die top-10 ding almal om die groot prys mee, wat nie net die gesogte titel as Boereworskampioen vir 2021 insluit nie, maar ook die eer om landwyd met hul wenresep op Shoprite en Checkers se winkelrakke te spog, én boonop weg te ry in ‘n Toyota Fortuner 2.4 GD-6 4X2.

Die wenner word op Donderdag 26 Augustus aangewys tydens ‘n virtuele aankondiging wat op dié dag regstreeks op die YouTube-kanale van Shoprite en Checkers uitgesaai sal word.

Justine Fortuin

justine@mahareng.co.za