Bfn-haarkapper een van bestes in SA

0
1702
Marni Malan, een van drie finaliste in die Salon Africa International-kompetisie in die kategorie and-Up-Coming Hairdresser of the Year

Die 22-jarige Marni Malan van Bloemfontein is as een van net drie finaliste in Suid-Afrika gekies in die kategorie Up-and-Coming Hairdresser of the Year in die Salon International Africa-kompetisie.

Dié kompetisie word jaarliks gehou en het verskeie kategorieë waarin haarkappers kan deelneem. Malan het aan Bloemfontein Courant vertel dat dit maklik is om aan die kompetisie deel te neem omdat jy enige professionele haarprodukte mag gebruik. “Ek het my foto-inskrywings op stiller dae by die werk geskep. Ek het saam met die model aan die grimering gewerk en daarna die foto’s geneem. My gunstelingdeel van haarkappery is om te kleur. Ek is mal oor ‘n uitdaging en voel dat harekleur baie aspekte het wat in ag geneem moet word en as ‘n geheel beskou moet word,” sê sy.

Malan doen al hare sedert sy 16 jaar oud was en het in naweke en vakansies in ‘n salon begin werk. Sy vertel sy wou al vandat sy haar verstand gekry het, hare doen. Sy het op laerskool haar eie hare begin sny en in die hoërskool het vriende haar met hul haarsny vertrou. Tydens haar matriekjaar het sy klasse by Redken bygewoon. Sy vertel dat sy daarvan hou om haarstyle te skep wat buite haar gemaksone is en graag kliënte se haarstyle afneem vir plasing op sosiale media.

Malan het in 2018 gekwalifiseer as professionele haarkapper. Sy het by ‘n vriendin van die kompetisie gehoor en dié het haar gemotiveer om deel te neem. Sy kon nie glo dat sy ‘n finalis is nie, maar nou voel sy trots, opgewonde en werklik dankbaar.

Die kompetisie sou op 16 Maart om 19:00 by Melrose Arch gehou word, maar weens die Coronavirus-maatreëls is dit uitgestel. Omdat Malan ‘n liefde vir mense het, verstaan sy dié maatreëls en is sy nogtans opgewonde oor wat kan gebeur. Haar liefde vir hare en mense motiveer haar. Dit is vir haar ‘n voorreg dat haar kliënte haar nie net met hul hare vertrou nie, maar ook hul geluk, sukses, teleurstellings en ander dinge met haar deel.

“Ek voel goed, want ek glo dat ek positiewe energie, liefde en bemoediging oordra aan wie ook al in my stoel sit.”

Heidre Malgas
heidre@mahareng.co.za