Bfn-gesin moedeloos met lekkende dak

0
588
Mareldiah van Neel

Terwyl daar groot waardering is vir die onlangse reën, moes ’n plaaslike gesin van vier ’n stryd voer teen ’n lekkende dak wat vir hulle slapelose nagte besorg het. Daar was geen manier om te verhoed dat die reën in hul huis in Witherowlaan, Heidedal inkom nie.

Volgens Mareldiah van Neel moes hulle besems gryp elke keer wanneer dit begin reën en probeer om die water wat deur die huis geloop het, uit te vee. “Wanneer dit reën, het ons nêrens om te slaap nie – die water is oral. Wat dit erger maak, is dat ons ’n 7-jarige kind het,” sê Van Neel. Van Neel het aan Bloemfontein Courant gesê hulle het telkemale probeer om die dak reg te maak, maar geld is skaars en tye moeilik. Die gesin woon in hierdie slegte omstandighede sedert 2010 en dinge gaan al hoe meer agteruit.

Gemeenskapswerker Wayne du Preez het ’n beroep op inwoners gedoen om hande te vat en te help waar hulle kan om die dak te herstel. “Die toestand van die huis is aaklig en elke kamer het gate so groot soos sokkerballe in die dak. Oral is teëls gebreek. Indien daar enige iemand is wat kan help met dakteëls en arbeid, sal dit baie waardeer word,” sê Du Preez. Volgens Van Neel sal dit vir haar die wêreld beteken as die dak herstel kan word.

“Dit sal soveel beteken, ek kan dit nie bekostig om dit self doen nie. Wanneer dit reën, kan ons nie slaap nie. Ons laat die kleintjie in die hoekie slaap waar dit nie nat is nie. Ons is bang die dak kan ineenstort en die hom of enige iemand anders in die huis beseer.”

Persone wat graag wil help, kan ’n e-pos stuur na Du Preez by dupreezwayne0@gmail.com of hom bel by 074 843 9602.

Pierce van Heerden
pierce@mahareng.co.za