Bfn DBV oorval met diere in Desembervakansie

0
400
Senior inspekteur, Reinet Meyer

Ten spyte van minder vuurwerke in die Desembervakansie en die instelling van die aandklokreël tydens die president se toespraak, het die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein steeds ‘n toename in rondloperdiere sowel as ongewenste troeteldiere wat daar afgelaai word, gesien.

Senior inspekteur, Reinet Meyer, sê hoewel hulle dankbaar is dat diere minder verskrik en beseer is in dié tyd het hulle steeds ‘n geweldige toename van troeteldiere gehad het wat aan die DBV ‘geskenk’ is weens geldelike probleme. In baie gevalle was die eienaars van die troeteldiere nie in staat om hulle te versorg soos nodig nie en het hulle die diere na die DBV geneem.

Die organisasie het 325 katte en 398 honde in Desember bygekry, ‘n totaal van 723 diere. “Gelukkig het baie van die diere se eienaars hulle weer by die DBV kom opeis nadat hulle by ons beland het. Van die ander afgedwaalde diere is ook reeds aangeneem,” sê Meyer.

Sy vertel dat die DBV drie gevalle gehad het van honde wat in duiwelsvurkomheinings vasgesit het. Twee was so erg beseer dat hulle na ‘n veearts geneem moes word vir behandeling. Volgens Meyer verkies hulle dat geen vuurwerke afgevuur word nie. Diere raak verbouereerd en verskrik en word dan beseer of selfs doodgery omdat hulle weghardloop.

Volgens Meyer is die beste manier wanneer persone diere wil aanneem, om die DBV te besoek en die nodige vorms in te vul. “Nadat ons eers huisinspeksie gedoen het, kan iemand kwalifiseer om ‘n dier aan te neem.”

Pierce van Heerden
pierce@mahareng.co.za