Bfn DBV benodig jou hulp

0
2758
Bloemfonteinse DBV Hoofinspekteur, Reinet Meyer. FOTO: Gypseenia Lion

‘n Paar bekende gesigte in Bloemfontein is agter tralies en jy kan help om hul borgtog van R10 000 bymekaar te maak sodat hulle vrygelaat kan word.

Vir dié projek het die DBV mense gekies wat hulle ondersteun regdeur die jaar. Almal van hulle is groot diereliefhebbers wat altyd alles in hulle vermoë doen om die DBV te help. Dis mense wat altyd hulle moue oprol as daar nood is.

“Ons as DBV moet maandeliks fondsinsamelings hou om ons uitgawes te kan dek. Ons het gevoel dat hierdie ’n prettige projek is en ons wil graag die gemeenskap betrokke maak by alles wat die DBV doen vir fondinsameling,” verduidelik Senior Inspekteur, Reinet Meyer.

Met ’n donasie van so min as R30 kan iemand uit die hokke by die DBV vrygelaat word op Saterdag 18 Februarie. Die doel is om R10 000 per persoon in te samel. Wees gerus, al word die volle bedrag nie betaal nie sal die deelnemers wel vrygelaat word.

Die doel van die projek is om die DBV te help met hul onkoste. “Ons maandelikse uitgawes is ver bo ons inkomste en daarom moet ons fondse insamel om die DBV in stand te hou en nog meer diere te red. Daar is so baie mishandeling daar buite en ons ry ongeveer 400km per dag. Petrol is geweldig duur, maar ons sal nooit nalaat om diere in nood te help nie.”

Volgens Meyer is die organisasie se petrolrekening tans R140 000 en dit het so opgehoop weens die talle diere wat hulle vanaf November, Desember en Januarie moes red en gaan haal. Die mishandeling van diere word, volgens haar, nie minder nie en klagte moet ondersoek word.

“Ons sal altyd diere in nood help, maak nie saak hoe ver nie.”

Die insameling is Saterdag vanaf 10:00 tot 12:00 by die DBV in Bloemfontein. Donasies kan ook op www.bloemfonteinspca.co.za gemaak word of jy kan “Bloemspca” na 42646 SMS (R30 per SMS).

Gypseenia Lion 

gypseenia@mahareng.co.za