Bfn: Boewe vlug met onbekende bedrag geld ná sakeroof

0
1224
Foto: Mark Steenbok

“ ‘n Ou is mos maar bang, jy weet nooit wanneer hulle jou gaan skiet nie. Ek is Afri-Forum Fichardtpark se voorsitter, so ek ken hierdie goed. Dit is nie lekker om dit te ervaar nie.”

Só beskryf die bestuurder van die Take 5 Madu Mageu-vrugtesapwinkel in Hamilton die drama wat hom vanoggend daar afgespeel het nadat twee mans die winkel bestorm en beroof het.

‘n Duidelik geskokte Pieter Myburgh het aan Courant gesê die twee mans het ongeveer 07:20 die winkel ingekom en hom met ‘n 9mm-pistool gedreig.

“Ek het by my lessenaar gesit toe ek die twee mans deur die glasdeur sien inkom. Hulle het toe ‘n pistool op my gerig en geld gevra. Ek het hulle toe maar na die kluis gevat en die sakkie geld uitgehaal en vir hulle gegee.”

“Hulle het my daarna in ‘n stoorkamer toegesluit en is toe weg,” sê Myburgh.

“Ek was so 15 tot 20 minute daarbinne voordat ek begin skree het dat iemand my moet kom help. Die ouens van die staalplek (op dieselfde perseel) het my kom help. Hulle moes die veiligheidshek oopsny om my uit te kry,” sê Myburgh.

Hy is ongedeerd ná die insident.

Intussen sê polisiewoordvoerder, Ikobeng Hlubi, ‘n klag van sakeroof word ondersoek.

Die twee mans het met ‘n onbekende bedrag geld op die vlug geslaan.

Mark Steenbok & Lerato Sebe