Bfn-blogger glo saam kan vroue berge versit

0
213
Bloemfonteinse blogger, Cathy de Lange.

Met die fokus op Vrouemaand, wat hierdie naweek begin, wil Bloemfonteinse blogger, Cathy de Lange, met haar blog vroue en veral ma’s bemoedig en ondersteun. Haar doel is om hulle te verseker dat hulle perfek is nes hulle is.

Sy het aan Bloemfontein Courant meer vertel oor haar ‘VrouFees’-blog. Sy verduidelik dat sy ’n “mammablogger” is; dus gaan baie van waaroor sy gesels noodwendig daaroor. Sy gesels egter ook op haar blog oor baie ander dinge. Een van haar eerste video’s is deur meer as ’n half miljoen mense op Facebook gevolg.

Dit het haar laat besluit om haar blogbladsy te begin. De Lange het aan Bloemfontein Courant vertel dat sy graag die vroue van Bloemfontein wil laat verstaan dat hulle regtig so pragtig is soos hulle kinders, eggenote en geliefdes dink hulle is, en dat hulle goed genoeg is – altyd en onder alle omstandighede. “Ongelukkig sien ek nog soveel vroue wat mekaar afkraak of verkleineer. Dit neem niks van jou af weg om ’n ander vrou op te bou nie, en dis dalk net wat sy daardie dag nodig gehad het.

Ek sou so graag wou sien dat vroue mekaar meer ondersteun en opbou. Ons is so “powerful”; as ons daar is vir mekaar sal ons berge kan versit!” Volgens De Lange klink dit dalk soos iets kleins, maar een ding wat sy voel elke vrou moet hê, is om te leer om goed te kommunikeer. Dit is iets wat hulle op alle vlakke kan gebruik – professioneel en persoonlik. “Almal het iets om te deel. Jy hoef nie ’n motiveringspreker te wees om vir iemand iets te beteken nie.

Praat met mekaar! ‘It does take a village’, en ons is mekaar se ‘village’.” Op die vraag watter advies sy vir vroue het, sê sy vroue moet gedurig mooi met hulself praat. “Ons gee altyd as vroue soveel liefde vir ander. Gee bietjie van daardie liefde vir jouself.” Sy voel ook dat vroue geduldig met hulself moet wees en nie skaam moet wees oor die dae wanneer hulle goed voel oor hulself nie. “Selfvertroue begin by jóú; nie by iemand anders nie.”

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za