Bfn-bloemiste ‘n seëning vir klante

0
559
Martha Goliath van Bloemfontein, beter bekend as Ouma, wat vir die afgelope 26 jaar deel van die bloemistebedryf is. FOTO: Marco Moors

Martha Goliath van Bloemfontein, beter bekend as Ouma, is vir die afgelope 26 jaar deel van die bloemistebedryf in die stad en het sedert sy by ’n plaaslike bloemistewinkel begin werk het, talle toekennings opgeraap.

Goliath, wat tans werknemer is van Izami Bloemiste, het as deel van haar blommeavontuur binne ’n wêreld van blomme vier Interfl ora-toekennings ingepalm, sowel as Beste Bloemis en Beste Rangskikking. Volgens die eienaar, Ruaan Dreyer, is Ouma die hart en siel van Izami en het haar rangskikkings al baie aandag getrek en ontvang sy gereeld erkenning en dank van klante.

Martha Goliath van Bloemfontein, beter bekend as Ouma, wat vir die afgelope 26 jaar deel van die bloemistebedryf is. FOTO: Marco Moors

Dreyer het aan Bloemfontein Courant vertel hoedat Ouma se mooi maniere, haar omgee, entoesiasme en sorgsaamheid deur almal om haar waardeer word. Op die vraag wat haar werk vir haar beteken, het Ouma Martha geantwoord dat blomme haar passie is en verduidelik dat haar werk vir haar verander het in ’n stokperdjie.

Daar is nie ’n enkele dag dat sy nie geniet wat sy doen nie. “Wanneer ek snags droom, droom ek van blomme en hoe ek hulle gaan rangskik. Ek hou van verskillende kleure en teksture.” Blommerangskik het haar lewe geword en volgens haar hou sy nooit op leer nie en is elke dag ’n plesier wanneer hulle weekliks nuwe blomme ontvang en sy die geleentheid het om te “speel” en na hartelus te rangskik soos sy goeddink.

Een van Ouma se drome is om haar eie akademie te begin waar sy opkomende bloemiste kan oplei en die noodsaaklike vaardigheid kan help ontwikkel. Sy wil ook graag wenke met jong mense deel wat hulle sal nodig hê om in die bloemistebedryf te oorleef.

Dreyer sê die bestuur van Izami het geweldige waardering vir Ouma en haar werk, en voeg by, “Ons wil Ouma Martha graag bedank vir haar diens en wens haar nog vele gesonde jare en voorspoedige jare toe vir die toekoms.”

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za