Bfn-besighede maak beste van inperking

0
759
Dames van BAB Barbershop is van links Chantelle du Plooy, Jenny England, Annorien de Bruin en Charne Potgieter

Die nasionale inperking trek by dag 27 en het nie net vir gesinne nie, maar ook vir besighede regoor die land baie uitdagings gebring. Bloemfonteinse besighede het besluit om die uitdaging die hoof te bied en na vore gekom met kreatiewe idees oor hoe hom besig te bly tydens die inperking.

Besigheidseienaar Petrie Ninham, stigter van Cheekicherri Trendstore, ‘n vroueklerewinkel en Cheekitribe.com, ‘n aanlyn-modesubskripsieplatform het aan Bloemfontein Courant vertel hoedat hulle ‘n heel nuwe diens, die aanlyn-klerekasrekonstruksiesessie, beskikbaar gestel het vir aanlynkliënte wat hulp gevra het oor hoe om hul klerekas te bestuur.

“Ons help ons kliënte om hul kleredrag in lyn te bring met wie hulle is en bou tydens hierdie sessies hul  klerekas rondom basiese, elementêre stylelemente. Mense wat belangstel, kan ‘n boodskap aan Ninham via Facebook stuur.

Eienaar van BAB Barber Shop, Annorien de Bruyn, het aan Bloemfontein Courant gesê vir hulle beteken die inperking dat hulle nie betaal word nie. Omdat hulle in die haarkapperybedryf is, werk hulle op ‘n geen werk, geen betaling-stelsel. Sy sê hulle het besluit om ‘n BackaBuddy-fonds te begin.

“Dit was nie net ‘n besigheidsbesluit om so fonds te stig nie, maar ook ‘n emosionele besluit. Die individue wat vir my werk is nie net werknemers nie, maar is ook familie. Dit breek my hart om te dink hoeveel Suid-Afrikaners dieselfde deurgaan as ons.”

Sy het verder gesê dat as die BackaBuddy selfs net ‘n bietjie kan help om haar personeel te voed en hulle te help om rekeninge te betaal, sy nie net verlig sal voel nie, maar ook bevoorreg dat mede-Suid-Afrikaners uitreik om mense in nood te ondersteun.
Die gemeenskap kan betrokke raak deur na hul webtuiste, https://www.backabuddy.co.za/champion/project/bab-barbershop2020 te gaan en iets by te dra vir die personeel van hierdie onderneming.

Die Social Food Club se Lekker Bekkers, wenners van My Kitchen Rules Seisoen 1, en Petri Coertzen gaan nie lê tydens die inperking nie. Hulle gaan net ‘n bietjie anders dink oor die besigheid en die aanslag verander. Hulle glo dat waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg. Hulle werk tans saam met WeberSa en daag families uit om hul gewilde pizzas op ‘n Weber te maak. Volgens Jamandi Bekker is die sluitingsdatum vir video’s en fotops van mense wat die pizzas maak, 30 April. Die wenner kan wegloop met n splinternuwe Weber en ‘n Weber-pizzaplaat. Meer inligting kan op WeberSa se facebookblad en op Socialfoodclub se sosialemediaplatforms gekry word.

Jamandi en Machiel, in samewerking met WeberSa en Socialfoodclub begin ook binnekort n WeberGrillacademy in Bloemfontein waar hulle die publiek op ‘n kuier-kuier-manier, soos wat net hulle kan, gaan leer hoe om verskillende disse op die Weber te maak.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za