Bfn-bejaarde brei beertjies vir Kersfees

0
372
Rina de Wet, wat vandag (Donderdag) verjaar, by al die beertjies wat al reeds klaar is en wat vir Kersfees aan elkeen van die inwoners by die versorgingseenheid gegee sal word.

Rina de Wet (77), ‘n boorling van Bloemfontein, het ‘n jaar gelede saam met haar dogter, Erna Jacobs, beertjies begin brei nadat De Wet oorgeplaas is na die versorgingseenheid van Striata-aftreeoord in Universitas. Volgens Jacobs, het sy en haar suster, Hanli van Niekerk, alles probeer om hul ma besig te hou en te stimuleer nadat De Wet met demensie gediagnoseer is. Sy wou eers niks doen nie, totdat hulle eendag met die breipatroon vir die beertjies, wol en penne by haar aangekom het. Net daar het alles verander. Jacobs vertel dat haar ma tans besig is met haar derde beertjie en dat die ander twee, wat sy self gebrei en baie liefhet, op haar bed lê.

Die beertjies wat vir Kersfees aan elkeen van die inwoners by die versorgingseenheid gegee sal word.

Jacobs vertel hoedat mense, toe hulle sien waarmee hulle besig is, begin vra het vir beertjies. Sy het reeds 16 beertjies gebrei en die gier het nou oorgespoel na van die personeellede van die aftreeoord asook die gemeenskap, wat saam met Jacobs en De Wet begin beertjies brei het. Die gevolg is dat daar nou soveel beertjies by die aftreeoord is dat daar vir Kersfees aan elkeen van die inwoners by die versorgingseenheid ‘n beertjie gegee sal word.

Die eenheidsbestuurder, Ursela Schutte, Rina de Wet met haar twee beertjies, en haar dogter, Erna Jacobs.

Volgens die eenheidsbestuurder, Ursela Schutte, het Tannie Rina, vandat sy daar by die versorgingseenheid kom bly het, ‘n “oplewing onder die ander oumensies en personeel gebring met haar opgeruimdheid en omdat sy altyd aan die sing is.” Sy sing liedjies uit haar jong dae, ou verspotte liedjies, FAK- en volkspeleliedjies, en soms baie ernstige liedere. “Baie van die ander Striata-inwoners kom haar gereeld besoek om saam te sing.”

Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za