Bfn arts gee alles vir geamputeerdes

0
856
Fans Kleinhans en sy vrou, Riaanna.

In April 2018 kry Frans Kleinhans van Bloemfontein ‘n oproep uit Ysland. Sy hulp word benodig vir ‘n sekere pasiënt.

Nie sommer enige pasiënt nie, maar Paul Steyn, geamputeerde wat sy been op 13 verloor het en stigter van die Paul Steyn-stigting. Aan die ander kant is dr. Hans Kleinhans ook nie sommer enige praktisyn nie; hy is een van Bloemfontein se voorste geneeshere wat in die vervaardiging van prostese spesialiseer. Dié langafstandoproep daardie dag, sou hul albei se lewens verander.

Steyn was besig met ‘n epiese 7,000 km-staptog deur Suid-Afrika om geld in te samel vir sy organisasie. Össur, die Yslandiese vervaardiger van prostetiese komponente, wat ook Steyn se borg is, het Kleinhans se hulp gevra vir hierdie dapper geamputeerde se reis.
Kleinhans het dadelik ingestem en gratis hulp aan Steyn verleen, want Steyn se prostetiese voet was erg gekraak, en sou ‘n groot hindernis in sy reis wees indien dit nie herstel kon word nie.

Nadat hy Steyn ontmoet het, het Kleinhans besluit om die geleentheid te gebruik om bewustheid oor amputasies te skep. Meer as 24 geamputeerdes het Steyn gevolglik vergesel op sy tog uit Bloemfontein en gehelp om die boodskap te versprei. Steyn se dapper staptog en Kleinhans se hulp het ongeveer 20 ander pasiënte met prostetiese ledemate gehelp.

Kleinhans sê tereg, “As jy in hierdie beroep is, besef jy eintlik hoeveel mense daar buite prosteses nodig het.” Volgens hom is die grootste oorsaak van amputasies diabetes, landbou-ongelukke en motorongelukke. Kleinhans beskou diabetes as “die siekte wat ons doodmaak”. Hy waarsku ouers dat kinders al hoe meer aan hierdie vernietigende siekte ly.
Die Paul Steyn-stigting bestaan sedert 2011 en het reeds baie verrig op die gebied van bewusmaking en fondsinsameling vir geamputeerdes.

Vernon Baumann
info@bloemfonteincourant.co.za