Bfn-akteur se ‘mediese droom’ word waar

0
3195
Leon Els FOTO: FACEBOOK

Van akteur op die kassie na keuring vir medies is nie noodwendig hoe Leon Els (26) sy lewe wou hê nie, maar nou leef hy sy droom.

Els, ‘n ou Tralie en bekende gesig op die sepie, Getroud Met Rugby, het in Februarie die goeie nuus ontvang dat hy uiteindelik vir medies aan die Universiteit van die Vrystaat gekeur is. Dit was nie ‘n maklike pad om te stap nie, aangesien hy reeds na skool aansoek gedoen het, maar nie keuring gekry het nie. Hy het weer in Mei 2021 aansoek gedoen, maar in Oktober gehoor dat hy afgekeur is.

“Ek is regtig verbaas oor my keuring en my familie is verlig, maar ek sien verskriklik uit na die pad wat voorlê.” Els het reeds twee grade, een in menslikehulpbronnebestuur en ‘n honneursgraad in bedryfsielkunde.

Al is dit ‘n aanpassing om weer op kampus te wees, is dit nie vir Els vreemd nie. Ja, hy is ook ouer as sy mede-studente, maar dit tel in sy guns omdat hy voluit kan fokus op sy studies en nie op dit waarop meeste eerstejaars fokus nie. En wat is dit? Om sosiaal te wees en om partytjie te hou natuurlik.

Els besef ook dat hy nie veel vrye tyd gaan hê nie, maar as hy wel ‘n tydjie het, gaan hy gym toe of speel muurbal. Sy vriende besef ook dat hulle nie meer baie van hom gaan sien nie, maar tog is hulle steeds bly vir Els. “Hulle is trots op my en hulle ondersteun my al die pad.”

En sy jare van akteur wees? “Ek is bly ek het dit vir ‘n paar jaar gedoen sodat ek nie in die toekoms spyt is nie, maar ek het besef dit is nie my passie nie.”

Jeretha Oosthuizen

jeretha@mahareng.co.za