Bewareagroep beswaard oor ontwikkeling naby Sewe Damme

0
370
Vriende van die Sewe Damme-bewaria is besorg oor 'n nuwe konstruksieprojek wat die vrede gaan versteur. FOTO: www.7dams.co.za

Planne vir ontwikkelinge naby die Sewe Damme-bewarea in Lilyvale, Bloemfontein, het kritiek uitgelok. Dit kom nadat ‘n kennisgewing in die gebied aangebring is deur stads- en streeksbeplanningsfirma, Urban Dynamics Free State Inc., wat inwoners uitnooi om besware en bekommernis oor die projek in te dien.

Volgens die bewareagroep, Vriende van die Sewe Damme-bewarea, was die tydsberekening van die kennisgewing opportunisties. Die kennisgewing is op 7 Desember 2018 in die gebied wat algemeen gebruik word as ‘n fietsry- en wandelroete aangebring. Advokaat Jo Hiemstra het in ‘n brief aan die Mangaung-metro-munisipaliteit gesê dat die feesseisoen nie ‘n geleë tyd is om inwoners in kennis te stel nie. “Die doel van so ‘n kennisgewing is om geleentheid te bied vir openbare deelname aan die proses. Die tydsberekening en posisionering van die kennisgewing wat deur Urban Dynamics aangebring is, is duidelik bereken om eerder openbare deelname te vermy as uit te nooi,” sê Hiemstra.

“Dis word gesê met die begin van die skoolvakansie, die feesseisoen, die gewone uittog uit Bloemfontein, sowel as die algemene jaareind-afskakel-houding van mense wat eerder die noodsaaklike en slegs die onvermydelike wil doen in gedagte,” sê hy.

Hoe dit ook al sy, Urban Dynamics se Leon Ehler stel dit dat 7 Desember die afsnydatum vir kennisgewings was en dat die spesifieke kennisgewing aangebring is so gou as wat die maatskappy kon adverteer. “Daar is geen regulasie of enigiets anders wat verhinder dat enige applikant nie op daardie laaste afsnydatum kan adverteer nie,” verduidelik hy. “Dit was nie die bedoeling om op daardie tydstip te adverteer om mense te verhoed om beswaar te maak nie. Dit is nie waar nie,” het Ehler bygevoeg.

Hiemstra het dit ook gestel dat die ontwikkeling die bewarea negatief kon affekteer met betrekking tot riolering en uitsigte oor die gebied. “Volgens die rioleringsplanne moet twee rioollyne opgerig word vir honderde meters tot by die Sewe Damme-bewarea om aan te sluit by ‘n bestaande rioollyn. Dit sal groot en uitgebreide uitgrawings behels en heelwaarskynlik ‘n geskiet met plofstof. Dit sal ook die sensitiewe landskap skend en bedreigde plantlewe vernietig,” sê Hiemstra. “Die voorgestelde ontwikkeling sal ‘n erge visuele impak op die bestaande bewarea hê. Daar word aanbeveel dat alle geboue aan die bewarea se kant van die waterskeidingslyn of wat op die grens van die bewarea is, beperk word tot op grondvlak.”

Volgens Ehlers sal konstruksie op die private eiendom binne vier maande begin as die beplanningsproses gunstig verloop. “Daar is besware. Persoonlik dink ek nie dat daar enige effek op Sewe Damme sal wees nie, dus het ons ‘n aansoek namens die kliënt ingedien en sal ek reageer op besware sodra ek dit ontvang het.” Ehlers sê besware en bekommernisse word verwelkom en sal in ag geneem word. – Nomaqhawe Mtebele
nomaqhawe@mahareng.co.za