Beveilig jou reis met tegnologie

0
600

Servaas de Kock

Baie lesers gaan hierdie Paastyd op die pad wees. Hier is een of twee wenke hoe die tegnologie, of meer spesifiek, jou slimfoon, jou kan help om jou reis veiliger te maak. Indien jy ’n Twitter-gebruiker is, sal dit goed wees om die groot radiostasies in die gebied wat jy gaan besoek te volg, soos byvoorbeeld OFM. Daar word op gereelde basis inligting oor verkeer gekommunikeer wat jou kan help om jou reisplanne aan te pas indien daar probleme op jou roete is, of om net eenvoudig tyd te spaar. Hierdie inligting is ook beskikbaar op die OFM-mobiele webwerf.

Wat baiekeer op reis gebeur, is dat ’n mens vinniger moeg word en nie die nodige beplanning gedoen het om oor te slaap nie. Dit is egter nie nodig om aan te hou te ry wanneer jy moeg is nie; jy kan ’n applikasie soos Google-kaarte op jou slimfoon gebruik om presies te sien waar oornagfasiliteite beskikbaar is, met hulle kontakbesonderhede. Google-kaarte kan jou ook help om effektief te beplan wanneer jy reis. Jy kan van die afstandfunksie gebruik maak en presies sien hoe lank dit jou gaan neem van punt A na punt B. Hierdie funksie neem outomaties veranderlikes in ag wat jou reis kan verleng. Seker die belangrikste wenk van almal is om nie jou slimfoon te gebruik wanneer jy bestuur nie. Gee eerder jou foon van ’n passasier om te gebruik, of hou stil. Ek weet dit is baie gevra, maar dit maak dit net veiliger vir jouself en ander padgebruikers. Die paaie gaan reeds baie besig wees.
Veilig reis en geniet die Paastyd.

* De Kock is die die Algemene Bestuurder van Digital Platforms, webtuiste en ontwikkelingspesialiste.