Belanghebbendes van die Moqhaka-munisipalitiet sit môre koppe bymekaar om oplossings vir die waterkrisis in Kroonstad te vind. Munisipale-woordvoerder, Khojane Mdiba, sê die munisipale bestuurder en ander betrokkenes vergader Vrydag. Kommentaar oor die waterkwessie sal gelewer word.
Inwoners het vandeesweek aan Bloemfontein Courant gesê hulle vrees dat hul eersdaags letterlik sonder ‘n druppel kraanwater gaan wees.
Daarmee saam is dié dorp se gesamentlike waterverbruik sowat 35 megaliter per dag. Plaaslike besighede word onder meer benadeel. Die eienaar van Pure Drop Water, Gerhard Pretorius, sê Kroonstad se water is nie noodwendig vuil nie, maar die aanvraag na water neem toe.
‘n Waterkundige en voormalige ingenieur van die dorp is van mening dat die droogtetoestande asook swak bestuur deur die munisipaliteit van die hoofredes vir Kroonstad se waterkrisis is.
Theuns de Bruyn, wat onder meer verantwoordelik was vir die bou van die Bloemhoekdam in 1976, sê dié dam, voorsien die dorp van water. Dammevlakke is laag en die dam is nou slegs 1% vol.
Kroonstad het ook reeds ‘n geruime tyd ‘n tekort aan genoegsame bogrondse water weens lae damvlakke en die droogte.
Inwoners word gedwing om alternatiewe waterbronne te gebruik en inwoners van die informele nedersettings is reeds die afgelope twee weke sonder water. De Bruyn blameer ook die tekort aan genoeg kundiges vir die huidige waterkrisis. – Mark Steenbok & Moeketsi Mogotsi.
Die vis vrek by Bloemhoekdam wat slegs 1% vol is.
