Betogers het die polisie en brandweerbeamptes in die vroeë oggendure op die Noordwes Universiteit (NWU) se Mafikeng-kampus met klippe bestook. ‘n Sekuriteitspunt, wat geleë is op die grens van die kampus, is van buite aan die brand gesteek. Betogers het ook verskeie vullisdromme gebrand. NWU-woordvoerder, Louis Jacobs, sê niemand is beseer nie en daar was geen inhegtenisnames nie.
Volgens hom is die situasie nou rustiger as vroeër vanoggend. Dit is egter steeds gespanne. Streng veiligheidsmaatreëls is egter in plek. Daar was gister geen klasse op die Mafikeng-kampus nie. Jacobs sê ‘n besluit om klasse vandag te hervat sal deur die loop van die dag geneem word, soos die situasie ontvou. “Geen finale besluit is geneem om die kampus te sluit nie.” Hy sê die gradeplegtighede wat gister buite die kampus plaasgevind het, het goed verloop, sonder enige onderbrekings.
Streng veiligheidsmaatreëls is getref vir ‘n gradeplegtigheid wat elders plaasvind vandag. Jacobs sê die situasie op die Mafikeng-kampus was gister kalm. Klasse is opgeskort.
Die NWU se Potchefstroom- en Vaaldriehoek-kampus gaan soos normaal voort.
Intussen is bedrywighede op die Vaal Universiteit vir Tegnologie (VUT) in Vanderbijlpark, kalm vanoggend nadat betogende studente en polisiebeamptes gisteraand buite dié kampus slaags geraak het. VUT se woordvoerder, Mike Khuboni, sê personeel het vanoggend opgedaag vir werk en studente woon klasse by.
Khuboni sê hy sal vanoggend terugvoer kry oor die voorval laat gisteraand waartydens studente hand uitgeruk het en polisiebeamptes met klippe bestook het.
Khuboni sê daar was gister woelinge op die kampus. Sekuriteitsbeamptes moes intree en ‘n kleinerige groep betogers, wat personeellede se geparkeerde motors met klippe beskadig het, is uitmekaar gejaag. Dit het omstreeks 11:30 plaasgevind, waarná die situasie na normaal teruggekeer het. – Christal-Lize Muller